Hierdie week se boodskap
Tema: Sien Suid-Afrika anders
Teks: Romeine 12: 9-21 en Nehemia 1 en 2
Boodskap:
Wat maak jou opgewonde oor Suid-Afrika? Wat maak jou bly oor Nelspruit? Wat is alles vir jou mooi in ons land en in jou gemeenskap? Waarom is jy nog hier en het jy nog nie groener weivelde elders in die wêreld gaan soek nie?
Ons as mense is so geneig om teen negatiewe dinge vas te kyk. Ons sien gewoonlik eerste raak wat verkeerd en uit plek is en dan kyk ons alles wat reg en in plek is mis. Ons is so geneig dat ons gedagtes hoofsaaklik in beslag geneem word deur al die negatiewe en verkeerde dinge in ons land. Luister maar net wanneer mense met mekaar gesels. Hoeveel gesprekke gaan oor opbouende, goeie dinge en hoeveel gaan oor dit wat sleg, verkeerd en negatief is.
God wil graag hê dat ons as Christene anders moet wees as die wêreld. Ons moet die wees wat positief is. Gaan lees weer ‘n slag mooi wat sê Filippense 4:8 vir ons. Ons is diegene wat Hoop moet bring wanneer dit lyk of almal om ons begin hoop verloor het. Gaan lees hoe mooi is dit verwoord in 1 Petrus 3:15.
Ons elkeen het ‘n keuse of ons deel van die probleem van Suid-Afrika gaan word en of ons deel van die oplossing gaan raak. Nehemia het gekies om die nood raak te sien, daaroor te bid en daadwerkliks iets te begin doen. God het vir ons elkeen bepaalde gawes en vermoëns gegee waarmee ons in ons onmiddellike omgewing, ‘n verskil kan maak. Ons moet net leer om die geleenthede wat God oor ons pad stuur, raak te sien en te kies om ‘n verskil te maak.
Ons land is tans in onbekende waters met die effek wat die Covid-19 virus op ons land het.
Is dit nie dalk juis die geleentheid waar God jou wil gebruik om as Ligdraer, hoop te bring en ‘n verskil te maak nie?
Gebed:
Hemelse Vader, help my om iemand te wees waarin U hoop en liefde duidelik sigbaar is vir ander. Help my om in uitdagende tye ‘n positiewe verskil te maak in my omgewing en in Suid-Afrika. Amen
Klik hier om na ‘n klankbaan van die preek te luister.
Byeenkoms vir Seniors
Die Seniors het Sondag na die erediens heerlik saam met die Gemeente by KOFFIE@SUID gekuier. Dankie aan die Senior- en Gemeentebedieningspanne vir die bederf. Die eetgoed was heerlik en die tafels baie mooi. Dankie aan elke gemeentelid wat gesellig saam met ons seniors kom kuier het. As jy nie deel was van die Seniorfunksie nie, het jy beslis uitgemis!
Beste wense vir die res van die week!
Jean, Louis en Gerrit