Hierdie week se boodskap

 

 

 

Tema: Luister God na my wanneer ek Bid?

Teks: Psalm 86

Ons leef vandag in ‘n wêreld waarin baie mense die behoefte het aan iemand wat bereid is om werklik na hulle te luister. Iemand wie se tyd nie beperk is of wat se program te vol is nie. Ons leef in ‘n wêreld waarin ons programme oorvol is en ons minder tyd vir mekaar het. Ons sukkel om werklik volledig met al ons aandag na ander mense te luister. Ons aandag word kort-kort afgetrek deur ‘n selfoon wat lui of ons gedagtes wat dwaal na alles wat deel uitmaak van ons vol programme.

Mense se verhoudings met ander raak al hoe meer oppervlakkig omrede daar nie meer gereeld diep gesprekke plaasvind nie. Hoe meer ons aandagtig na mekaar luister, hoe dieper en sterker raak verhoudings. Opregte kommunikasie is ‘n belangrike bousteen van enige verhouding.

Ek dink ons almal weet hoe dit voel wanneer jy met iemand gesels en jy kom agter dat hulle nie werklik aandagtig na jou luister nie. Ons kom nogals gou agter wanneer ander met ons gefrustreerd raak omdat hulle nie regtig lus is om na ons te luister nie. Mense kan ook ander maklik minderwaardig laat voel. Nie belangrik genoeg om na te luister nie.

Daar is egter een persoon wat altyd bereid is om na ons te luister.

  • Een wat altyd Sy volle aandag aan ons gee as ons met ‘n opregte hart Hom nader.
  • Een wat ons beter verstaan as wat ons onsself verstaan. Een wat ons harte ken.
  • Een wat nie geirriteerd raak met ons wanneer ons sukkel om onsself mooi uit te druk nie.
  • Een wat met graagte na ons luister en so graag wil hê dat ons sommer baie met Hom moet gesels.

Die Bybel leer ons dat God ons gebede hoor en na ons luister.

“In die tyd van my nood roep ek na U, want U antwoord my.” Psalm 86:7 (2020 Vertaling)

En dit maak nie saak wie jy is of hoe arm of onbelangrik ander jou laat voel nie.
God luister na elke mense se gebed want Hy het ons elkeen geskep en is lief vir elkeen van ons.

“Hy luister na die gebed van die wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.” Psalm 102:18

Verder gee Hy het ook vir ons Sy Gees gegee wat ons help en bystaan.
Sy Gees wat ook bystaan wanneer ons bid en namens ons pleit as ons nie weet wat om te sê nie.

“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” Romeine 8:26

Wat ‘n wonderlike voorreg het ons nie om enige tyd van die dag of nag met die Almagtige God, die Skepper van die groot Heelal te mag praat sonder dat ons nodig het om weke voor uit ‘n afspraak te moet maak.
Wat ‘n wonderlike voorreg om te weet dat Hy graag na ons luister en dat Hy ons verstaan en ons lief het.

Jy kan vandag verseker weet dat God Sy beloftes hou.

En wanneer jy met ‘n opregte hart tot God bid, hoor en luister Hy na elke woord wat jy met Hom praat. Daarvan kan jy seker wees.

Gebed:  Dankie Hemelse Vader dat U altyd bereid en beskikbaar is om na my te luister. Dankie dat U my verstaan en nooit moeg raak vir my stem nie. Help my dat ek meer erns sal maak om gereeld met U te gesels. Amen

Vir volledige videoboodskap, klik hier

Verdere Nadenke:

• Hoeveel tyd spandeer jy in God se teenwoordigheid en in gesprek met Hom?

• Wat alles verhinder jou om meer tyd in gesprek met God te spandeer?

• Waarom is dit belangrik om gereeld met God te praat, al weet Hy reeds alles? – Filippense 4:6

• Wanneer voel dit vir jou of God nie jou gebede hoor nie?

• As jy terug kyk op jou lewenspad, is daar gebede wat jy bly is God nie voor ja gesê het nie?

• Hoe moet ons God nader volgens Hebreërs 10:21-23?

• Wat sê Psalm 5:1-4 vir ons oor gebed en wat ons moet doen?

• Lees Matteus 6:5-14 aandagtig deur. Wat leer jy alles uit die gedeelte oor gebed?

• Wat kan jy doen wanneer dit vir jou voel of God nie jou gebede hoor nie?

• Wat kan jy alles prakties doen om jou Gebedslewe te verbeter?

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, tans in die hospitaal is, die wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
 
  • Hugo Hamilton
  • Sheila Kellerman
  • Marietjie Craig
  • Fielie van Niekerk
  • Tom Farmer
  • Neels van den Berg
  • Frikkie Crotz
  • Joe Meyer
  • Lidmate wat tans Covid het en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.

Medelye word betoon met:

  • Billy Ras na die heengaan van sy vrou Leonie
  • Christa Olivier na die afsterwe van haar pa.
 

 

 

 

Griefshare Groepsessies

 

So baie mense het die afgelope jaar geliefdes aan die dood afgestaan. Hierdie nuwe kursus kan jou help op jou pad na genesing. Die kursus begin eerskomende Donderdag, 18 Augustus.

Klik hier om na ‘n video te kyk waarin Dr Jean Strydom meer oor die aard van die kursus vertel.

 

 

Pulled Pork Bun Projek

 
 Ondersteun asseblief ons volgende fondsinsamelingsprojek.  Ons as kerk bevind ons maar in voortdurende uitdagende omstandighede.
 
Indien u enige donasies wil gee tot die projek of op een of ander manier wil help sal ons dit hoog op prys stel. Ons doel is om R25 000 wins te maak aangesien ons steeds nie vleisfees kan hou nie.
 
Navrae kontak dr. Jean (0835724886). Baie dankie vir jou ondersteuning. 
 

 

 

 

 

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!

    Vriendelike groete,
    Jean, Louis en Gerrit