Hierdie week se boodskap
Tema: Jesus, Verlosser en Broer wat die weg gebaan het.
Teks: Hebreërs 2:5-18
Boodskap: Ons lees baie keer in tydskrifte of op sosiale media van gesinne wat as uitsonderlik gesien word. Daar is al selfs dokumentêre programme gemaak oor gesinne of families wat uitsonderlik gesien word. Maar meeste van hierdie gesiene of uit uitsonderlike gesinne het ook maar baie keer aspekte waarvan ons nie weet nie. Kyk maar hoeveel keer gebeur dit nie dat na jare daar allerlei geraamtes uit die kas val.
Elkeen van ons is ook deel van ‘n fisiese, aardse gesin en familie hier op aarde. Party van ons het dalk ook ‘n familie of gesin waarop ons trots voel en ander van ons voel dalk partykeer skaam oor ons gesin of familie. Gewoonlik is daar ook familielede wat jy makliker mee oor die weg kom as ander. Familielede waarop jy trots is en ander wat jy eerder wil wegsteek.
Maar daar is ook ‘n ander gesin, ander familie waarvan ons elkeen deel is. In Hebreërs 2:5-18 kom vertel die skrywer ons iets van hierdie familie. ‘n Geestelike familie waarvan ons elkeen kan deel wees.
Hierdie is ‘n baie besonderse, merkwaardige familie met God, die Skepper en Onderhouer van die groot heelal, wat die Vader is.
Jesus is die ouer Broer wat dit moontlik maak vir elkeen van ons om te kan deel word van hierdie besonderse en merkwaardige familie. Hy en Sy Vader wil ons elkeen so graag deelmaak van die familie, dat Jesus bereid was om aan die kruis te sterf en so die weg vir ons te baan na die Vader toe. Hy was bereid om Sy wonderlike, heilige hemelse woning te veruil om hier in die geboke wêreld, in die gestalte van ‘n mens, te kom leef.
As ons elkeen se oudste Broer, weet Hy waardeur ons alles hier op aarde gaan. Hy verstaan al die emosies en uitdagings wat ons het. Hy verstaan elke versoeking wat oor ons pad kom. Daarom kan ons met vrymoedigheid die pad volg wat Hy vir ons kom baan het. Die pad wat Hy kom baan het, se eindbestemming is ons Vaderhuis in die hemel. Dit is defnietief nie die maklikste pad om op te wees nie, maar dis die beste pad om op te wees.
Kom ons kies weer opnuut om volheid te leef as familielid van ons Geestelike familie. Kom ons kies weer opnuut om ander mense te nooi en te help om deel te word van hierdie besondere, merkwaardige familie van God.
Gebed: Dankie Hemelse Vader dat ek mag deel wees van U besonderse familie. Dankie Jesus Christus dat U, as ons oudste Broer, dit moontlik gemaak het vir ons elkeen. Heilige Gees dankie dat U my bystaan en leer hoe om ander mense ook deel te maak van hierdie familie.
Opname van die preek is hier beskikbaar
Knie-aksie:
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
- Leon Steenkamp
- Hugo Hamilton
- Louette Kok
- Lettie Myburgh
- Anette Barnard
Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit