17 Januarie 2018
Boodskap vir die week
Tema: Bly in My
Teks: Joh. 15:4 en Jes. 40-45
Boodskap: Die nuwe jaar is nog in sy kinderskoene en niemand van ons weet wat voorlê nie. Daar wag groot uitdagings asook vreugdes en hartseer deur die loop van die jaar. Met soveel veranderlikes wat voorlê nooi Jesus ons om maar net in Hom te bly. Hy wil dat ons vir 2018 skuiling in Hom sal vind sodat ons nie die jaar alleen trotseer nie.
Johannes 15:4 stel dit duidelik dat ons in Christus moet bly want sonder Hom kan ons niks doen nie. Blaai ons deur Jesaja dan kom jy agter hoe nietig die mens is. Ek en jy is nie so fantasties soos ons soms dink nie. Ons is maar net tydelik hier (Jes. 40:6-8). Omdat jy so nietig is wil God hê dat jy jou vertroue in Hom sal plaas, in Hom sal bly. Hy waarsku ons dat ons nie ons vertroue in afgode moet stel nie, want hulle is leweloos en kan niks vir jou doen nie (Jes. 41:22-23; 44:9-11).
Dit is verstommend om te sien hoeveel keer die Here bevestig dat Hy die enigste Here is, die God oor alles (Jes. 44:24b-25). Hy bevestig ook keer op keer dat Hy die gans andere is, dat Sy gelyke nie gevind kan word nie (Jes. 40:12-18, 25; 41:4; 44:6b; 45:5-7). Die Here probeer ons oortuig dat Hy ons uitsluitlike keuse vir ons lewenspad moet wees, dat ons alleen op Hom moet vertrou. Hy nooi jou uit om sonder moeite na Hom toe te kom (Jes. 55:1-3).
Indien jy na Hom toe kom sal Hy vir jou sorg (Jes. 40:28-31; 41:9-10; 41:17-19; 43:1-5; 44:1-5). Die uiteinde van jou inwoning by Hom en Sy inwoning in jou lewe is dat Hy verheerlik word en jy met ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan hierdie nuwe jaar kan aandurf.
Gebed: Here, ek plaas my lewe in U hande en wil met alles in U woon. Amen
Bedieninge skou
Sondag vind die “bedieninge skou” plaas waartydens jy die geleentheid geboied word om aan te dui waar jy hierdie jaar betrokke wil wees.
Jy kan sommer nou reeds die vorm aflaai waarop jy kan aandui hoe en waar jy betrokke wil wees en dan die voltooide vorm Sondag inhandig tydens die bedieninge skou.
Klik hier om die vorm af te laai
Kinderbediening
Inskrywings vir die Junior Kinderbediening vind Sondag na afloop van die erediensplaas.
Kleuters van 3-6 jaar kan na die erediens na die lapa gaan om te registreer. Die personeel sal na u kleinding omsien terwyl u die bedieninge skou bywoon.
Alle gr 1-6 leerders se ouers moet asb. in die kerk agter bly vir ’n kort inligting sessie, waarna jul by die Kinderkerktafel by die bedieninge skou die kinders moet registreer, asb. Die personeel sal gereed wees om u by te staan om die proses baie vinnig af te handel. Daar sal ook ’n lekker verrassing vir die kinders wees. Ons kort nog ouers om te help by die graad 1 dogters (2 mammas) , die graad 1 seuns (1 pappa) en ook by die graad 6 dogters (1 mamma). Ons werk in vier groepe en elke groep het ’n maksimum van 7 diensbeurte deur die jaar. Kontak asb. vir Ds. Louis Pienaar indien u bereid is om ons te help.
Week van gebed: 28-31 Januarie 2018
Hierdie jaar word die week van gebed waargeneem deur ds Arrie Preller van die NG Gemeente, Komatipoort. Hy gaan fokus op die eerste gedeelte van die Ons Vader gebed.
Neem die vrymoedigheid om hierdie reeks by te woon wat volgende Sondagoggend, 28 Januarie afskop.
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.