Boodskap vir die week
Teks: Markus :1-20
Ons leef vandag in ‘n baie gejaagde wêreld. Dit het gelei tot ‘n “Kits”kultuur. Ons wil hê alles moet vinnig en onmiddelik gebeur. Ons hou oor die algemeen daarvan om te wag nie. Deesdae is dit meestal goedkoper om eerder ietwat breek te vervang, as om dit reg te maak. Hoe gereeld hoor mens nie dat iemand se voertuig deur ‘n versekeringsmaatskappy “afgeskryf” is nie.
Tog is daar mense wat die potensiaal en waarde raaksien in goed wat ander “afgeskryf” en weggegooi het. Ek staan soms verstom as ek sien hoe mense dit reg kry om ou voertuie en ou meubels te restoureer. Hulle spandeer baie aandag en tyd en baie keer geld aan dit wat vir ander na nutteloos lyk.
Ongelukkig is dit ook baie keer waar wanneer dit by verhoudings kom. Mense spandeer nie meer tyd met mekaar nie en wanneer dit moeite raak en te veel van my tyd begin vrae, skryf ons ook maar baie maklik mense af. Mense doen nie meer voldoende moeite om ander te help wanneer hulle seerkry en stukkend is weens die aanslae van die lewe nie. Soms is dit hulle eie skuld. Ander kere is dit weens die aanslae van die lewe dat hulle emosioneel en selfs geestelik stukkend geraak het.
Ons samelewing is vol mense wat met ‘n klomp seerkry, ‘n klomp stukkend wees rondloop en wat hulle baie keer vir ander wegsteek. Mense wat beleef dat hulle nie goed genoeg vir ander is nie. Baie van hierdie gevoelens kom van mense se kinderdae af en is weens herhaalde insidente.
Dalk sit jy vandag die boodskap en lees en besef dit is op jou van toepassing. Jy loop dalk met ‘n stuk seer rond. Jy voel dalk dat jou lewe redelik stukkend is al probeer jy hard om dit vir ander weg te steek. Dalk stoei jy van kinderdae af met die gevoel van “ek is nooit goed genoeg nie”. Dalk is dit onlangse gebeure wat nog vars in die geheue is of dalk goed wat oor jare opgebou het. Dalk voel dit vir jou ook of mense jou “afgeskryf” het.
Die Bybel is vol van verhale van God / Jesus wat mense se seer, gebrokenheid en minderwaardigheid raaksien en hulle aanraak met Sy liefde en genade. God skryf nooit mense af nie. Nee, God spesialiseer daarin om mense se lewens te restoureer. God spesialiseer daarin om vir ons nuwe perspektief te gee oor onsself en ander mense. Net soos wat Jesus hierdie besetene in Markus 5, aangeraak het en sy lewe kom nuut maak het en hom restoureer het, so wil Hy graag ook vir jou doen. Moenie langer wag net. Vertel vandag nog vir die Here van al jou seerkry, jou stukkend wees, jou verwerping.
Gebed:
Hemelse Vader, U ken elke fynste detail van my lewe. U weet van al die seerkry en swaarkry van my lewe. Ek wil vandag vir U vra om my te help om ‘n nuwe perspektief te kry op my lewe. Ek wil vir U vra om my ook aan te raak en my lewe weer te kom restoureer. Amen
Om na ‘n klankbaan van die preek te luister, klik hier.
Jeug
Ds Gerrit is terug van die ringsitting af en daarom gaan die jeugprogramme voort:
- Woensdag Bybelskool
- Donderdag Juventas
Let ook daarop dat die afsluiting van Jeug en Kinderkerk op Sondag 27 Oktober sal plaasvind
Ietsie meer oor die Verskeidenheidskonsert
Die musiekspan bied eerskomende Vrydagaand, 18 Oktober ‘n Verskeidenheidskonsert aan vir ‘n fondsinsamelingsprojek.
Dit gaan nie ‘n Geestelike konsert wees nie. Die program is regtig ‘n verskeidenheid van items wat wissel van orrelspel tot hedendaagse Afrikaanse liedjies. Ons kunstenaars wissel van 5 jaar oud tot amper 70 jaar oud.
Die konsert is kindervriendelik, die musiekgroep het self kleuters en daarom is kinders van alle ouderdomme baie welkom.
Nooi asb alle vriende en familie!
Damestee Saterdag 12 Oktober
Die damestee was ‘n praggeleentheid waar almal lekker kon saamkuier en van die fynprower-heetgoedjies kon geniet
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit