16 Mei 2018
Boodskap
2 Petrus 1:19b: “Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte”
Meeste van ons is goed bekend met die term “wakkerbly” aande. Ook iets uit my prille jeug! Hierdie fenomeen is een van daardie dinge wat voor die tyd na ‘n blink plan lyk, maar teen die einde van die aand/oggend tref die besef jou soos ‘n tienpond hamer…Ek moes eerder by die huis gebly het! Vroegaand is die energie bruisend en borrelend en almal ewe opgewonde oor die lawwe avontuur van wakker bly, terwyl ons eintlik veronderstel is om te slaap. Maar boeta, slaan daai klok vieruur is al die voorbokke (ek inkluis) lippe teen die klippe….
Die teks het my dadelik aan hierdie aande laat dink. Wanneer dit goed gaan met ons loop die energie vlakke hoog en skyn die sonlig ekstra helder. Is ons sterk en vol moed. Lyk geen berg te groot om uit te klim nie. Maar wanneer die donker koue aande van die lewe toesak, raak dit stil om ons en verdwyn al die pret en plesier. Weg is al die bravade en die mannemoed. Is alle grappies, skielik op ‘n stokkie…
Petrus praat hier van ‘n boodskap wat soos ‘n lamp in ‘n donker plek skyn. ‘n Boodskap wat vir ons goed is. Dit bring die lig, vir wanneer dit donker raak in ons lewens. Hierdie boodskap wat hy van praat, is natuurlik die wederkoms van Jesus. Maar ek sien dit ook as ‘n antwoord op ‘n moeilike gebedsaak. Ek sien die lig as ‘n salfie vir my seerplekke. Die lig is vergifnis wat ek so nodig het, en genade wat ek aan my naaste moet bewys. Hierdie lamp gee die lig en die energie wat ons nodig het om ons deur die moeilike en wakkerbly tye te dra. Dit is die lig wat ons nodig het om God se stem te hoor, om sy wil in ons lewens te verstaan. As ons naby God se lig bly, kan ons maklik op die môrester (Jesus se wederkoms) wag al is ons moeg. Kan ons met nuwe fut en krag die moeilikhede wat die toekoms bring, tegemoet gaan. Wanneer jy moedeloos en moeg is jou wakkerbly-aand-lewe, gaan soek Jesus se lamplig. Bly naby aan Hom sodat jy nie uitgeput raak, wanneer die donkerte toesak nie. Hou moed, staan sterk! Die môrester sit reeds aan die horison…..
Gebed: Jesus Christus, dankie dat U ons lig is en dankie Heilige Gees dat U ons help om ligdraers te wees.
Kinderkerkkamp
Hierdie naweek is dit weer tyd vir die kinderkerkkamp. Ons gaan baie leer van Jesus en ons gaan hope pret hê. Ons vra dat die gemeente vir ons sal bid asseblief.
As daar nog enige maats is wat wil saam gaan moet julle sou gou as moontlik hierdie week julle vorms op Facebook onder NG Suid Kinderbediening se files kry. Bring asseblief so gou as moontlik kerk toe.
Retreat
- Saterdag 19 Mei om 09H00 tot 12H00 te Nelspruit Suid konsistorie.
- Onderwerp: Die WET & PINKSTER…..
- Benodigdhede: Bybel, Leerbare gees, Skryfgoed.
- Kom peins saam & deel!
- Almal baie welkom!
Faber
Groete & seënwense,
Jean, Louis en Johan
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.