16 Augustus 2017
Boodskap vir die week
Teks: Eksodus 4:10-12; Jeremia 1:6-9
Tema: My gebreke en probleme in God se hande
Verskonings! Ons is deesdae geneig om vining verskoning te maak vir wanneer daar iets van my verwag word wat ons uit ons gemaksone gaan neem. Ons hou daarvan om gemaklik te wees. Ons hou baie keer nie daarvan as ons grense moet oorskrei nie.
Verder hou ons daarvan om op ons sterkpunte te fokus en dit op die voorgrond te hou. Dis vir ons gemaklik en goed as ons swakpunte en gebreke op die agtergrond is. Daar waar ons nie gereeld daaraan herinner word nie.
Dieselfde was waar van Moses en Jeremia ook. Maar God kom roep hulle en alhoewel hulle verskonings vir ons geldig mag klink, tel die verskonings nie vir God nie. Want sien, God het ‘n plan en ‘n doel met ons elkeen. Net soos Hy vir Jeremia daaraan herinner het dat Hy al voor geboorte ‘n plan met sy lewe gehad het.
Moses, Jeremia en ‘n groot klomp geloofshelde van die Bybel moes leer dat God presies weet wat elkeen se sterkpunte, maar ook hulle swakpunte en gebreke is. God ken elkeen se probleme en uitdagings. Hulle moes leer om met ander oë te kyk na hulle swakpunte, gebreke en problem. Want ons dink gewoonlik negatief daaroor, maar God kyk anders daarna.
Ons elkeen is nie wie ons is net opgrond van ons sterkpunte nie. Nee, ook ons swakpunte, gebreke en probleme maak van ons wie ons is. En dus die kombinasie wat ons geskik maak in God se diens. Want wanneer ons swak is, maak ons meer staat op God en minder op onsself.
Deel van ons geloofsreis is om te leer om minder verskonings te gebruik en meer gewillig te wees om voluit vir God te werk. Want in God se hande kan my slegste swakpunt en my ergste gebrek ‘n instrument wees wat God wil gebruik.
Gaan loer ‘n slag weer na die verhaal van Nick Vujicic en hoe God sy gebrek gebruik om wêreld wyd ‘n impak te maak.
Gebed:
Hemelse Vader, dankie nie net vir my sterkpunte nie, maar dankie ook vir my swakpunte, gebreke en uitdagings. Want ook dit maak my wie ek is en maak my bruikbar in U hande
Amen
Eredienste
Sondag 20 Augustus
- 08:30 – Oggenddiens: Nagmaal
- 18:00 – Koinonia byeenkoms
Gemeente-ete; Sondag 20 Augustus
Vetkoekverkoping
Op Vrydag 25 Augustus verkoop ons heerlike vetkoek en maalvleis / konfyt of net gewone vetkoeke by die kerk. Dit vorm deel van ons jaarlikse fondsinsameling. Moenie hierdie heerlike groot vetkoek met maalvleis misloop nie.
Die bestelvorm kan afgelaai word of by die kerkkantoor afgehaal word.
Klik hier om die bestelvorm af te laai
Jy kan dat almal by jou werksplek bestel en epos dan die vorm vir ons na die adres bo aan die vorm.
Sluitingsdatum vir bestelings is Dinsdag 22 Augustus.
Omgeegroepe
Wil jy graag inskakel by ‘n omgeegroep?
Stel jy belang om jou eie omgeegroep te begin?
Skakel vir Martie Scholtz (081 457 5860) of Dr. Jean (083 572 4886)
Ons wil graag nuwe omgeegroepleiers oplei. Die volgende opleidingsdatums is beskikbaar:
- Do. 7 Sept 18:00-20:00
- Do. 14 Sept 18:00-20:00
Venue: Koinonia Sentrum (skakel Dr. Jean 083 572 4886 vir bespreking)
Senior Jeugbediening
Bybelskool selgroep: Woensdae 18:00 – 19:00 in die Lapa vir al ons senior jeug.
Seniorbediening
Die seniorbediening en seniors het fluks aan die brei en hekel van kombersies geraak. Verlede Vrydag het hulle besoek afgelê by die kinderhuis en kombersies vir die kinders geneem. Die jongste van 4 maande het ook ‘n gehekelde kombersie ontvang. Daar is natuurlik ook lekker koek geëet en koeldrank gedrink!
Susan van Huyssteen wil vir almal bedank wat betrokke was met hierdie projek. As u wil betrokke raak by die seniorbediening kontak Susan by 0849642847.
(Die fototjies is aangepas om nie die kinders se gesigte te wys nie)
Verjaardae
Maritha Smith het by tannie Rita Barwise gaan inloer op 11 Augustus met haar 81ste verjaardag.
Baie geluk tannie Rita!
Gemeentekamp 8-10 September
Die kamp vind hierdie jaar weer by Mankele plaas. Die gemeentekamp is vir almal – oud en jonk. ‘n Geleentheid wat u beslis nie moet mis nie!
As jy belangstel kontak vir Belinda by 0836355480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za vir verdere inligting.
Die lidmate wat nie wil kamp nie maar in die huisies wil bly moet self met Mankele reël by 0788010453.
Kom kamp saam!
Geloofsoffer*
Waar staan ons nou?
Vriendelike versoek t.o.v. geloofsoffer:
Inbetalings t.o.v die geloofsoffer moet asseblief gespesifiseer word sodat dit korrek geallokeer kan word.
* Sien ons berig Van Vleisfees tot Geloofsreis hier: https://ngnelspruitsuid.co.za/midweek-28-junie-2017/
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.