Hierdie week se Boodskap

 

 

 

Tema: Moedersdag

Teks: 1 Samuel 1:1-19

Elkeen van ons roep verskillende herinneringe op wanneer ons aan ons ma dink. Party se ma’s leef nog en ander se ma’s het ons dalk al reeds vooruit gegaan hemel toe. Alhoewel geen ma perfek is nie, het elkeen van ons se ma ‘n belangrike rol in ons lewens gespeel en doen hulle vandag nog. Daar is niks of niemand ofwat ooit jou ma se rol kan vervang nie. Daar is min ander wat so baie opofferings vir ‘n kind maak as sy ma.

Ook in die Bybel sien ons dat God ma’s en vrouens op ‘n baie besondere manier gebruik, al was dit nie altyd maklik vir hulle gewees nie. Dink maar aan die rol wat Jogabed, Moses se ma, in sy begin jare gespeel het. Dink aan die rol wat Naomi in haar skoondogter Rut, se lewe gespeel het. Dink aan die rol wat Jesus se ma gespeel het. Dink ook aan die rol wat Timoteus se ma, Eunice, en sy ouma, Loïs, in sy lewe gespeel het.

Dis egter nie altyd maklik om ‘n ma te wees nie. Meeste van die ma’s in die Bybel moes deur swaar en moeilike tye gaan in die proses wat hulle instrumente in God se hand was. Vandag bied die lewe selfs nog groter uitdagings. Vrouens word vandag gekonfronteer met baie moeilike en ingewikkelde sake. Ma’s moet vandag prober om iewers ‘n balans te handhaaf tussen die eise van die werk, hulle mans, hulle kinders en die samelewing.

In die proses kry ma’s en vrouens baie keer seer en worstel hulle met ‘n klompie goed in hulle lewens. In 1 Samuel 1 lees ons van Hanna, die profeet Samuel se ma. Sy het met baie pyn en seer vir jare lank mee moes worstel. Sy het die pyn geken om gebrandmerk te wees en om vernerder te word. Sy het geweet hoe dit voel om te dink jy is nie goed genoeg nie.

Hanna leer ons wat die regte ding is om te doen met ons seerkry en ons pyn. Met ons swaarkry en met alles waarmee ons worstel. Sy stort haar hart voor die Here uit. Nie een maal nie, maar by herhaalde geleenthede doen sy dit.

Die Here nooi jou ook uit om jou hart voor Hom te kom uitstort. Hy nooi jou ook uit om alles vir Hom te kom vertel. Al die twyfel, al die seer, al die swaarkry van jou lewe. Want anders as mense, sal Hy jou nooit verwerp nie en verstaan Hy presies wat jy ervaar.

Gebed: Dankie Here dat ek ook vandag my hart voor U kan kom uitstort. Dankie dat U verstaan waarmee ek alles worstel in hierdie lewe. Here help my om sin te maak uit alles uit wat ek beleef en dankie dat ek weet dat U tree vir tree hierdie pad saam met my stap.

 

 

 

Gemeentekamp!

 

20 – 22 September 2019 by Henk van Rooyen Oord, Marlothpark.
Kampeerkoste R150 per persoon vir die naweek.
Vir meer inligting/kampeer besprekings kontak:
Anel 0829095099 of
Veronica 0834196543.
Vir chalet besprekings kontak:
Lana by Henk van Rooyen 072 282 2256

 

Omgeegroep vir jong werkende lidmate

 

Ds Gerrit Vosloo nooi alle jong werkende lidmate om Dinsdaeaande in te skakel by sy omgeegroep. Kontak hom gerus vir navrae

 

Moedersdag 12 Mei 2019

Die Moeders is Sondag bederf. Die Tieners het vir elkeen ‘n boekmerk uitgedeel en al die kinders het spesiaal vir die Mammas gesing. Trane het gerol en drukkies is gegee.  Ds Louis se omgeegroep het heerlike eetgoed by KOFFIE@SUID na die diens bedien.