Met hierdie, ons eerste nuusbrief vir die jaar 2020, wil ons as leraars vir jou ‘n baie mooi en geseënde jaar toewens. Mag jy die alomteenwoordige liefde van ons Vader elke dag in jou lewe ervaar.

Hierdie week se boodskap

Tema: Op reis saam met God deur 2020

Teks: Psalm 121

Baie keer sal mens mense hoor sê : “Die lewe is ‘n lied”, wanneer dit baie goed met hulle gaan. As ons so deur die Bybel blaai, sal mens ook kan sê: “Die lewe is ‘n reis”. Ons lees in 2 Korintiërs 5 dat ons lewe hier op aarde maar ‘n tentwoning is en dat ons permanente woning saam met God in die hemel is. Ons is dis op reis deur die lewe hier op aarde.

God wil graag hê dat ons opgewonde sal wees oor hierdie lewensreis van ons. Dat ons sal uitsien na 2020. Maar vir ons om ‘n positiewe lewensreis te kan beleef in 2020, moet ons onsself ‘n paar vrae vra. Saam met wie gaan jy reis in 2020? Sommige mense kan ons nie kies nie, soos byvoorbeeld ons naby familie. Maar ander kan ons kies en ons kan kies watter invloed ons hulle gaan toelaat om op ons lewensreis uit te oefen. Wat gaan jy saam neem op jou reis in 2020? Wat is die goed wat vir jou gaan saak maak? Aardse goed wat verganklik is of goed wat ewigheidswaarde het? Te veel kere reis ons te swaar deur hierdie lewe omdat ons ‘n klomp onnodige bagasie van seerkry, minderwaardigheid, haat en so meer met ons saam dra.

Op watter roetes gaan jy reis? God laat ons toe om ons eie lewensreis te beplan. Maar wat gaan in 2020 vir jou belangrik wees? Wie gaan die grootste invloed uitoefen op die keuses wat jy in 2020 gaan maak? En natuurlik moet ons nooit uit die oog verloor die eindbestemming wat ons graag wil bereik nie.

Psalm 121 gaan oor ‘n pelgrimsreis. Op die pelgrimstog was daar baie gevare vir die pelgrims. Daar was roofdiere wat in die berge geskuil het. Rowerbendes het in die berge geskuil en die pelgrims aangeval op die nou bergpaaie en die roetes oor die berg was baie keer steil en hulle was uitgelewer aan die natuurelemente.

So hou 2020 ook vir elkeen van ons “berge” in. Hierdie “berge” of uitdagings is soms bekend aan ons. Ons weet dalk nou al wat dit gaan wees wat ons in 2020 gaan moet oorkom. Sommige van die uitdagings gaan ons eers later van bewus word. Ons elkeen het bepaalde uitdagings, bepaalde “berge” op ons lewensreis.

Daarom moet ons dieselfde doen as hierdie pelgrim. Hy besef dat die Here tree vir tree die pad saam stap. Hy besef dat hy nie onnodig bang hoef te wees of terug te moet deins vir die berge op sy pad nie. Want God is die een wat hom sal bystaan en beskerm. God is die een wat hom oor hierdie berge sal begelei. Daarom nooi hy as te ware die Here uit om saam met hom op reis te gaan. Daarom kan hy uitsien na hierdie reis, want hy weet God sal hom nie in die steek laat of alleen laat nie.

Kom ons kies ook om deur 2020, en die res van ons lewensreis op aarde, saam met God te reis. Nog nader aan God te leef as wat ons in 2019 gedoen het. Kom ons laat nie toe dat die “berge”, die uitdagings van 2020, ons lewensvreugde kom steel nie.
Kom ons laat God toe om die “toerleier” van ons lewensreis hier op aarde te wees.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek nie bang hoef te wees vir die uitdagings van 2020 nie. Here, U weet reeds wat 2020 vir my gaan inhou. Help my dat ek hierdie jaar nog nader aan U sal leer leef. Dankie dat ek kan weet dat U die een is wat vir my sorg en my beskerm. Amen

Klik hier om na ‘n klankbaan van die preek te luister

Projek 500

 

Die Gemeente het weer die jaarlikse Projek 500 suksesvol kon afhandel. Elke jaar word daar gepoog om 500 Kerspakkies aan bejaardes by die outehuise in die omgewing uit te gee.

 

Baie dankie aan elkeen wat ‘n pakkie geskenk het.

 

 Skryfbehoefteprojek

Elke jaar reik die Gemeente uit na behoeftige kinders in ons gemeenskap. Skole indentifiseer leerders wat by hierdie projek sal baat vind. Skryfbehoeftepakkies word dan aangekoop en afgegee by die skole.

 

Die Mosaiekbediening het einde 2019 weer pakkies uit kon gee danksy die ruim bydrae van lidmate.

 

Gemeentebediening

Koffie@Suid

Elke Sondag, behalwe in skoolvakansies, bedien die gemeentebediening lekker filterkoffie, kitskoffie, tee en sap by Koffie@Suid. Dit is ‘n lekker kuier geleentheid na die erediens.

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!
 
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit