15 Augustus 2018


Hierdie week se Boodskap

Teks: Genesis 6:5-22

Boodskap: Raak jy ook soms moedeloos as jy lees en hoor van al die probleme in hierdie land en wêreld waarin ons leef? Ons sien en beleef baie keer self die sondigheid van hierdie wêreld. Dit maak dat mens soms begin wonder of dit die moeite werd is om aan te hou goed doen en aan te hou reg leef. Want om in hierdie wêreld reg te leef en goed te doen is soos om die heeltyd stroom-op te swem. Dit vra fokus en inspanning. Dis baie makliker om maar net met die sondige wêreld meegesleur te raak en ook maar te maak soos almal maak.

Die egter nie iets nuuts nie. Dis baie dieselfde situasie wat ons in Genesis 6 vind. God spreek hierdie harde woorde oor die korruptheid van die mensdom en hulle verotte lewens. Tog is daar een man en sy gesin wat uitstaan. Noag en sy gesin. Noag word beskryf met die woorde regverdig en onberispelik. Daar word pertinent genoem dat hy naby God geleef het. Naby genoeg dat God genadig teenoor hom is en kies om hom en sy familie te spaar. Naby genoeg dat hy gehoorsaam is al maak God se opdrag nie mooi sin nie. Ja, hy moet ‘n massiewe boot, ‘n ark bou. Hierdie bou proses met eenvoudige gereedskap moes hom en sy seuns waarskynlik dekades lank geneem het om te voltooi.

Tog voer Noag hierdie opdrag presies uit. Al maak dit waarskynlik nie mooi sin nie. Al is hy waarskynlik gespot deur die mense om hom. Al was hy die enigste een wat God regverdig en onberispelik gevind het. Dit kon sekerlik nie maklik vir Noag gewees het nie. Al hoe hy die kon regkry was om naby God te leef. Al Noag se volharding en harde werk was nie tervergeefs nie. Hy en sy gesin word gered. Noag beleef God in sy naby leef aan God.

Dieselfe is vir ons ook waar. Hoe nader ons aan God leef, hoe makliker kan ons staande bly. Hoe verder ons van God af leef, hoe makliker gaan ons met die stroom meegesleur raak. Ja, God se wil maak nie altyd vir ons sin nie, net soos dit waarskynlik nie mooi sin vir Noag gemaak het nie. Maar wanneer ons volhard, wag daar ook redding op ons. Daar is redding vir ons van die ewige dood deur Jesus Christus. Daar wag ‘n Ewige lewe op ons as ons volhard.

Gebed: Dankie hemelse Vader vir genade. Dankie Jesus Christus dat U redding vir ons moontlik gemaak het. Heilige Gees help ons om te volhard in ons geloof en end uit naby aan God te leef. Help ons om God te beleef in alle omstandighede. Amen

 

 

Byeenkomste / gebeure in die gemeente

 

 

 

 

 

 

Seniorbediening

Sop en Vetkoek funksie

Sondag na die erediens het ons die seniors behoorlik bederf met heerlike tuisgemaakte sop en vetkoek. Dokter Lia de Bruyn het ‘n praatjie kom gee wat baie leersaam was.

 

Dinsdae-kuier

Ons herinner alle seniors van alle ouderdomme om deel te word van die Dinsdagoggende kuier wat om 10:00 tot 12:00 in die konsistorie plaasvind. Ons brei, hekel, maak mooi goedjies en kuier heerlik saam. Ons kan ook reël vir vervoer as u nie self tot by die kerk kan kom nie.

Hierdie week se kuier was daar gebrei, gehekel, lief en leed gedeel en heerlik saamgekuier. Kom ontspan met ‘n koppie tee, kom ruil resepte en patrone uit, kom met idees en deel u geesdrif met ander!

Indien u wil betrokke raak by die seniorbediening, kontak Susan van Huyssteen by 084 964 2847.

 

Jeugbediening

 

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.