14 November 2018
Hierdie week se Boodskap: Julle moet mekaar liefhê.
Die Bybel sê vir ons duidelik: “God is liefde” (1 John. 4:8). Wat is dit in Jesus, wat mense so aangetrokke gemaak het tot Hom? Wat mense aangetrokke tot Jesus gemaak het was sy liefde. Sy liefde het skeidingsmure afgebreek en grense van haat en vooroordele oorgesteek.
Sy liefde het die stukkies van stukkende harte opgetel en hulle weer aanmekaar gesit. Sy liefde het ‘n doel en betekenis gegee aan oneindig baie mense se lewens. Sy liefde het vergifnis gevind waar daar slegs veroordeling was. Sy liefde het oorwinning gebring vanuit mislukking. Liefde is die geheim. Jesus het aarde toe gekom om God se liefde vir ons te openbaar.
Mense het dit in sy gesig gesien, dit gevoel in sy aanraking, dit gehoor in sy stem. Sy vriendskap was anders en beter as wat hulle ooit kon gedink het. Dit is sy liefde wat mense na Hom toe laat stroom het.
Skriflesing uit Johannes 13:31-35
Jesus sê om mekaar lief te hê is ‘n nuwe gebod wat Hy aan ons gee. Maar hoe kan dit nuut wees? Dit klink nie nuut in ons dag nie. Ons wêreld is verlief op die idee van liefde. Dis in ons liedjies en flieks en boeke. Regdeur ons kultuur hoor ons dat liefde is die antwoord, liefde het krag en al wat jy nodig het is liefde.
Dit was net so waar in Jesus se tyd, daar was baie filosowe in die eerste eeu wat die deugde van liefde geprys het. So waarom noem Jesus dit nuut? Want, die bevel om lief te hê, was nie nuut nie. In Lev. 19:18 hoor ons mos, ons moet ons naaste lief hê soos onsself. So wat bedoel Jesus met “nuwe”.
Daar is twee Griekse woorde wat gebruik kon word vir die woord “nuwe”. Die eerste woord is neos. Neos beteken nuut in tyd. Neos, was die nuutste, die mees onlangse. ‘n Nuwe kar sal ‘n neos kar wees.
Die ander woord is kainos. Kainos beteken nuut in vorm of kwaliteit, anders in natuur, iets vars en uniek. Wanneer jy jou gunsteling tandepasta koop en daarop staan “new and improved”, dan beteken dit kainos. Dit is hierdie woord wat Jesus hier gebruik.
Sy bevel was nuut, soos tot die kwaliteit en natuur van liefde. Hy het gepraat van ‘n nuwe soort liefde. Die liefde wat Jesus beveel het, het ‘n nuwe maatstaaf gehad – dit moes wees soos Jesus se liefde vir hulle. Die liefde wat Jesus beveel het, het sy oorsprong gehad vanaf ‘n nuwe krag – die krag van die Heilige Gees.
Die liefde wat Jesus beveel het, was gedryf deur ‘n nuwe motivering, die self opofferende dood van Jesus aan die kruis. Dit was liefde “new and improved”. Dit word gesien in die einste woord wat Jesus vir liefde gebruik.
Nou die antieke Grieke het verskillende woorde vir liefde gehad. Die eerste woord vir liefde was storge – dit word een keer in die Nuwe Testament gebruik in 2 Tim 3:3. Dit is liefde wat gefokus is op die familie. Soos ouers se omgee en versorging van hulle kinders en die natuurlike bond wat daar is tussen familielede.
Die tweede woord vir liefde in Grieks was eros. Dit is liefde wat fokus op die meer fisiese aspek. Ons kan dit noem seksuele liefde en dit is van eros wat ons die woord eroties vandaan kry. Dis enige iets van romanse, tot seksuele begeerte en passie. Interessant genoeg, hierdie woord word nooit in die Nuwe Testament gebruik nie.
Die derde Griekse woord wat liefde beskryf, word op baie plekke in die Nuwe Testament gebruik en dit is die woord philo. Dis die algemene woord vir liefde. Dit is vriendskapsliefde en dit sluit in dinge soos dieselfde belangstellings hê ens. Dis gewoonlik soos wanneer ons sê ons hou van iemand, of ons kan relate tot iemand. Dit praat van kameraadskap, samewerking ens. In die Nuwe Testament word hierdie woord vertaal met broederlik liefde.
Daar is niks verkeerd met hierdie liefdes nie. Elkeen het sy plek. Dis God-gegewe gawes en ons moet met dankbaarheid dit aanvaar en ervaar en geniet. Maar wanneer Jesus ons oproep om mekaar lief te hê, dan praat HY nie van storge, eros, of philo nie.
Jesus gebruik ‘n vierde woord, agape. Agape is die grootste vorm van liefde. Dit is God se liefde vir die mens. Dit is hoe Jesus ons beveel om lief te hê. Liefde is ‘n bevel/gebod. Dit is ‘n saak van gehoorsaamheid, ‘n saak van geestelike getrouheid. As ons nie vir mekaar lief is nie, dan is ons ongehoorsaam teenoor Jesus. Liefde is nie primêr ‘n gevoel nie, maar ‘n keuse. Dis ‘n besluit om iemand te hanteer soos wat jy graag hanteer sou wou word. Die liefde wat Jesus beveel, is nie oor hoe ek oor jou voel nie, maar hoe ek jou hanteer.
Wat definieer ons as Christene? Ons kan gedefinieer word deur ons missie en visie, ons kan gedefinieer word deur ons aanbidding. Ons kan gedefinieer word deur ons kerk strukture en bedienings, maar die een ding wat ons meer moet definieer as enige iets anders, is liefde.
Francis Schaffer, ‘n teoloog van die laaste eeu het gesê: Die wêreld het ‘n reg om die Christendom te oordeel, op die manier hoe hulle ander Christene hanteer. Hy skryf: “Our relationship with each other is the criterion the world uses to judge whether our message is truthful.”
Schaffer het geglo dat liefde is die enigste bevestiging van ‘n Christen se geloof. Liefde is die bewyse van jou geloof. Dit is die bewyse van wat jy glo. Daarom dat Jesus dan sê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is”.
Hoe lyk jou lewe buite die kerkmure? Is dit dieselfde as binne die kerkmure? As 3de millennium dissipels word ons geroep om die waarheid van God se liefde en die goeie nuus boodskap van God se liefde in die wêreld te gaan leef en te verkondig.
Die wêreld sien nie wat jy op ‘n Sondag in die kerk doen nie. Die wêreld sien nie hoe jy vir God loof en prys op ‘n Sondag nie. Die wêreld sien nie, hoe jy Nagmaal gebruik in die kerk nie. Die wêreld sien nie hoe jy bid nie. Die wêreld sien nie hoe jy jou offergawes vir God gee nie. Die wêreld kan nie sien hoe ons ons liefde vir God en mekaar uitleef wanneer ons op ‘n Sondag by mekaar kom nie.
Wat die wêreld wel sien, is dit wat ons die res van die tyd doen – wanneer ons buite hierdie kerkmure is. Die wêreld sien hoe ons lewe, hoe ons praat, hoe ons dinge doen. Sien die wêreld jou, bid, dien, liefhê? Liefde is ‘n identifiseringsmerk van jou geloof in Jesus.
Wanneer die wêreld na my en jou kyk, dan is hulle veronderstel om Jesus Christus in en deur ons te sien werk. Ons word geroep om lewende advertensies te wees van die veranderende krag van die evangelie van Jesus. Tog noem baie in die wêreld ons skynheiliges, want ons sê een ding, maar leef ‘n ander ding. Is daar bewyse in jou lewe dat jy ‘n volgeling, ‘n dissipel is van Jesus? Praat jou dade harder as jou woorde?
Die wêreld het nodig om te sien dat ons lewe op die manier wat Jesus ons beveel het – om mekaar lief te hê. ‘n Liefde wat meer is as net woorde, ‘n liefde wat geleef word deur dade, ‘n opofferend liefde vir mekaar – dit is die liefde van Jesus.
Miskien misluk ons in ons pogings om mekaar lief te hê, omdat ons misluk om God lief te hê soos wat ons veronderstel is om te doen. Met die hulp van God se Gees, kan ons lief hê soos wat Jesus liefhet.
Julle moet mekaar liefhê. Of in die woord van Jesus Homself: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is”.
Ons stel aan jou voor: Ds Gerrit en Mev Rinda Vosloo
Ds Gerrit en Mev Rinda Vosloo is Sondag 11 November 2018 in NG Nelspruit-Suid bevestig en ontvang.
Wie is die jong gesin wat hier in ons gemeente kom lei en dien?
Voor my sit twee jong mense, ‘n jong leraar met ‘n moderne haarstyl en vriendelike glimlag en langs hom sit sy pragtige vrou. Die twee dogtertjies hou hulself besig in die kerk se peuter-speelgoedkas.
Ek begin met my vrae maar dit neem nie lank voordat ons sommer gemaklik gesels, oor hul lewens tot nou, hier by ons, in Nelspruit-Suid. Gou besef ek, hier is twee mense, deur God na ons gestuur, gemaklike mense waarmee ek sommer my hart sou kon deel. Nie ‘n statige predikant wat ver en formeel voel nie, ‘n mense – mens, iemand met passie vir sy bediening.
Gerrit Vosloo is op 16 Junie 1984 in Eloff (naby Delmas) gebore, die middel kind van 3. Volgens hom was hy ‘n stout kind, en almal in die familie het gesê hy gaan eendag predikant word, daarom dat hy so stout is! Hy was in Eloff op Laerskool en later in HTS Springs. Op skool het hy aan die meeste sportsoorte deelgeneem; Tennis, Rugby, Krieket en hy behaal sy SA Kleure in Stoei. Gerrit het ook ‘n vrywillige jaar Weermagdiens gedoen, ‘n familie tradisie. Hierna is hy na Tukkies. Hy verwerf sy Meestersgraad in die Nuwe Testament.
Hy is steeds fanaties oor sport, hy het ‘n ongelooflike kennis van sport en sport geskiedenis. Hy ondersteun die Leeus, maar is veral lief vir sokker.
Rinda is op 17 September 1987 in Vryburg gebore. Sy was daar op Laer- en Hoërskool en gaan studeer Onderwys in Potchefstroom. Sy is ook lief vir sport en het hokkie en atletiek gedoen. Rinda is baie lief vir die natuur en insekte.
Gerrit het sy gemeentejaar in Warmbad-Wes gemeente gedoen. Rinda vertel dat sy baie laat eers haar finale proefjaar by ‘n skool gereël het en al waar sy ‘n plek kon kry was in Warmbad. Albei het in die koshuis gebly. Hier het hulle dan ontmoet en ‘n langafstand verhouding het gevolg. In 2012 is hulle getroud.
Ruah is in 2014 en Femke in 2017 gebore.
Wat doen hulle as gesin in aftyd? Hulle is baie lief vir stap en in die natuur wees, en spandeer baie tyd saam met hul twee dogtertjies.
Rinda is eintlik ‘n Biologie onderwyseres maar gee al ‘n geruime tyd Engels Huistaal. Sy het in Klerksdorp, Springs, Queenstown en Ermelo skoolgehou. Sy was reeds op jong ouderdom tot Departementshoof bevorder en het vir matriekleerlinge klas gegee. Dit getuig van haar passie, harde werk en integriteit. Sy vertel dat onderwys haar passie is. Gerrit getuig van haar gawe om met kinders te werk wat uit ‘n ander verwysingsraamwerk as ons kom. Dis waar die Here haar geplaas het, want hier in Nelspruit kry sy toe ‘n pos by Lowveld High vir Gr 12 Engels Huistaal.
Rinda het in Gr10 tydens ‘n jeug groep haar hart vir die Here gegee. Jer 29:11 is haar Skrif wat haar dra deur die moeilike tye van die lewe.
Die draaipunt in Gerrit se lewe het in St. 1 gekom. Hy het toe reeds besef hy kry geleenthede in die lewe wat hy moet aangryp en dat die Here vir hom sekere gawes gegee het en as hy hard daaraan werk, kan hy enige iets doen. Reeds hier het sy verhouding met die Here begin verdiep. Anders as ander studente, het hy vakansies op sy Oom se plaas gewerk of by die kommando diens gedoen.
Gerrit se eerste gemeente was in Tarkastad en van daar is hy na Ermelo Moedergemeente beroep. Gerrit is ook betrokke by die breër werkinge van die NG Kerk. Hy is ons Oostelike Sinode se Jeug verteenwoordiger by die Algemene Sinode se Taakspan vir Jeug en Geloofsvorming. Hy is ook die jongste lid van die Sinodale Diensraad van die Oostelike Sinode, waar hy en Dr. Jean Strydom saam in diens is. In die Oostelike Sinode dien Gerrit op die Jeugbediening Netwerk en is hy ook lid van die projekspan vir klein gemeentes.
Dit is in Gerrit se navorsing en werksaamhede in die breër NG Kerk wat hy ‘n groot bydrae maak in gesinne en die jeug van die kerk. Hy het baie inisiatiewe in verskeie gemeentes al begin wat bygedra het tot geloofsvorming en groei van die jeug sowel as die ouer geslagte. Hy was vroeër vanjaar genooi om die internasionale Jeug konferensie ONE by te woon in Guatemala, maar weens persoonlike redes kon hy dit nie meemaak nie. Vir Gerrit is die jeug nie die toekoms van die kerk nie, maar reeds nou al kerk. Dis hoe Jesus ons mos leer.
Rinda beskryf Gerrit as “‘n buddy for life”, sy skoolvriende, is steeds sy vriende. Hy is soos die karakter Mr Miyagi in die film Karate Kid, hy het wysheid en wil net altyd mense help of iets leer.
Hy wil mense leer dat wanneer jy val, jy weer moet opstaan maar ook iets moet optel en saamneem sodat jy kon leer uit die situasie. Dis vir hom belangrik om mense te leer van emosionele intelligensie, sodat hul daagliks beter besluite kan neem.
Elke dag gee Gerrit sy hart weer opnuut vir die Here. Elke dag wil hy ontwikkel en groei. Hy het baie spesiale verse in die Bybel maar Jos 1:9 is sy besonderse Skrif in sy lewe. Hulle getuig van hoe die Here hulle pad oopgemaak het na Nelspruit-Suid. Hulle het beleef dat die Here op ‘n bo-natuurlike wyse vir hulle voorsien het in Rinda se werk en in die huis wat hulle tans huur.
Hulle hou van kerk, die Here is hulle passie en die kerk hulle roeping. Die twee werk baie duidelik as ‘n span saam, hulle deel 2 eienskappe: eerstens hul liefde vir alle mense en tweedens hul begeerte om diensbaar te wees. “Mense is soms moeilik om mee te werk maar mense is hul besigheid”. Hulle wil mense seën soos God hulle Seën.
As ek so na hul luister, staan ek dankbaar teenoor God vir hierdie twee mense wat hy na ons gemeente gestuur het. Ek staan ook verstom oor Sy grootheid en Plan want hul pas dan so mooi in by ons familie en met ons twee ander predikantspare. Dit maak my opgewonde om deel te wees van NG Nelspruit-Suid en te sien wat die Here hier in ons gemeente gaan doen.
Belydenisaflegging: 18 November 2018
Kerssangdiens
Seniorbediening: Kersfees Ete, 10 November 2018
Die Senior Bediening het deur die jaar fluks gewerk. Die Kersete was die hoogtepunt en het getuig van die span se kreatiwiteit en diensbaarheid.
Frans Buys en Barry van der Vyver het die seniors vermaak met hul sang en kitare. Bekende Afrikaanse treffers het die gaste spontaan laat handeklap!
Projek 500
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.