14 Junie 2017


Die afgelope week is die nuus oorheers deur die verwoestende veldbrande en storms in die Wes-Kaap, waarin honderde mense van al hul besittings gestroop is; van ons gemeentelede se families is ook hierdeur geraak.  Ons harte gaan uit na almal wat hierdie tragedie moes deurmaak.

In tye soos hierdie kan mens nie anders nie as om in dankbaarheid te besef hoe geseënd ons is hier in die pragtige Laeveld is nie, dat ons in die middel van die winter heerlike warm sonskyndae kan beleef!

Mag ons elkeen ook die liefde van ons Vader soos die warmte van ons midwinter-son in ons lewe ervaar.

Mag jy hierdie week geseën word met alles wat jy aanpak.


Boodskap vir die week

Teks: Psalm 16

Boodskap

“As ek net eers klaar getroud is en gevestig is in my werk, sal ek…”

“As my kinders net bietjie ouer is en nie meer kleuters is nie, dan sal ek …”

“My kinders se Skoolprogramme is so vol, as hulle eers uit die huis is sal ek…”

“As my kinders net eers klaar is met Universiteit, dan sal ek…”

“As my kind se troue net eers agter die rug is, dan sal ek…”

“As my kleinkinders net eers groter is en ek hoef nie na hulle te kyk nie, dan sal ek…”

So hou ons aan om die doelpale te skuif vir dit wat God ons roep om te doen. Elke Christen word deur God geroep om as gestuurde ‘n verskil te gaan maak in elke lewensfase waarbinne ons, ons bevind. God vra nie nou van my om eendag, wanneer dit my tyd pas, vir Hom ‘n verskil te maak nie. God vra my om NOU en in elke lewensfase ‘n verskil in die wêreld te maak.

Toe Jesus die dissipels geroep het, het Hy van hulle verwag om Hom dadelik te begin volg. Nie eers eendag wanneer dit by hulle program en behoeftes in pas nie.

As ons Psalm 16 reg lees en verstaan, dan snap ons dat ons aan God behoort en nie aan onsself, ons eie behoeftes en begeertes nie. Ons eie behoeftes word soms die afgode wat ons weghou van God se roeping af. Ons bely so maklik ons behoort aan God, maar dan laat ons na om ook ons tyd en al ons lewensmiddele in God se beheer te plaas. Indien ek werklik my tyd in God se hand plaas, dan sal daar tyd in my program wees om uit te reik na ander. Dan sal daar tyd wees om my gestuurde roeping uit te leef.

As ons Psalm 16 reg lees en verstaan, dan sal ons verstaan dat alles wat ek het, van God af kom en dat Hy van my vra om dit met ander te deel wat nie dieselfde vooregte as ek het nie. Te maklik sien ons dit wat ons het, as ‘n reg, en nie ‘n voorreg nie. Die Here gee vir ons elkeen ‘n pragtige deel. Ons moet net leer om die pragtige deel raak te begin sien en op te hou om ons met ander te vergelyk. Hierdie mooi deel wil God hê moet on sook met ander deel.

Gebed:
Hemelse Vader, help my dat ek U in elke lewensfase voluit sal dien en sal volg. Help dat ek sal besef dat U my genoeg gee om ook met ander te kan deel. Gee vir my die onderskeidingsvermoë om te weet waar en hoe U my lewensmiddele wil gebruik in U Koningkrykswerk. Amen


Eredienste

Sondag 18 Junie

  • 08:30 – Oggenddiens – Dr Jean Strydom
  • 18:00 – Koinonia byeenkoms (in die Koinonia-sentrum)

 


Juventas

Neem asseblief kennis dat daar hierdie week nie ‘n Juventas-byeenkoms sal wees nie as gevolg van die langnaweek.

Is jy al ‘n Zapper?

Wat op aarde is Zapper?

In kort: Zapper is ‘n toepassing wat jy op jou slimfoon laai waarmee jy gerieflik elektroniese betalings kan maak.  Van ons gemeentelede het reeds verlede jaar tydens die Vleisfees met Zapper kennis gemaak, en is baie transaksies deur middel van hierdie toepassing gedoen.

Ek glo baie van ons het al hierdie snaakse sogenaamde QR-kodes opgemerk, soos dié wat hiernaas verskyn.  Elke QR-kode is uniek en as mens jou slimfoon met die Zapper toepassing gebruik om die kode te skandeer (scan), registreer die toepassing wie die begunstigde is aan wie betaling gemaak word.  Die gebruiker besluit dan wat die bedrag is wat aan die begunstigde betaal moet word en druk dan die knoppie op die toepassing – en siedaar – die betaling is gemaak.

Die goeie nuus is dat ons gemeente ook ‘n Zapper QR-kode het wat gemeentelede kan gebruik om dankoffers deur middel van Zapper te kan doen.

Om meer uit te vind oor hoe om die toepassing op jou slimfoon af te laai en te gebruik, besoek ons webblad deur hier te klik. ‘n Meer breedvoerige verduideliking word op die bladsy gegee, met volledige instuksies wat afgelaai kan word wat die proses verduidelik.


Senior Lidmate

Ons hartlike gelukwense aan die volgende gemeentelede (75 jaar en ouer) wie hul verjaarsdae hierdie week vier.

11 Junie: Hannetjie Jordaan
12 Junie: Jan Combrink
12 Junie: Lenie Viljoen
14 Junie: Maggie Lewarne


Raar maar waar…

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.