14 Februarie 2018
Midweek Boodskap
Teks: Johannes 6:28-36
EK IS DIE BROOD WAT LEWE GEE
Die Israeliete vra ‘n vraag wat soms so naby aan ons harte lê. Hulle leef in ‘n wêreld waar dinge swaar is, die lewe maak dit nie vir hulle maklik nie en tog moet hulle net oorleef. Hulle sien hoe Jesus ‘n wonderwerk doen wat almal verbaas laat staan. In die hele proses wil hulle net die Here se guns hê om hulle te red van die moeilike lewe. Dan kom vra hulle die vraag wat ons ook vra. Wat kan ons doen om te doen wat die Here van ons vra? Wat hulle bedoel is, wat kan ons doen sodat die Here weer in ons guns optree?
Jesus gee vir hulle ‘n eenvoudige antwoord. Hy sê hulle moet net in Hom glo. Hoe maklik is dit nie? Hulle moet net seker wees van dit wat hulle hoop. Hulle moet oortuig wees van Jesus se verlossing (Hebreërs 11:1). Natuurlik sien ons in vers 36 dat hulle die punt van geloof heeltemal mis. Sien Jesus kom sê eintlik dat geloof meer is as net om sekerheid, hoop en oortuiging te hê. Inteendeel om geloof te hê moet ons besef wie Jesus is en hoe ons verhouding met hom lyk.
Jesus het vroeër hulle fisiese honger aangespreek deur vir hulle almal brood te gee. Brood was hulle stapel voedsel. Nou kom Jesus in vers 35 en Hy gee vir hulle die kans om ook hulle geestelike honger te stil. Soos wat die brood hulle fisiese honger aangespreek het, sê Jesus dat Hy self die brood is wat lewe gee. Ons geestelike gesondheid hang van Jesus af.
Ons kom dan skielik agter dat Jesus eintlik sê dat ons geestelike gesondheid afhanklik is van Hom. Dit herinner ons aan Matteus 5:13 wat sê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”Ons moet in afhanklikheid van God leef want dit is wat geloof is. Dit is wat Jesus vir ons sê. Ons moet verstaan dat ons bestaan te danke is aan die Here.
Ons vergeet soms dat ons nie net fisiese mense is nie, maar dat ons ‘n geestelike dimensie het, en daardie geestelike dimensie is afhanklik van God. Ons afhanklikheid van God spoel ook oor in ons lewens in. Ons kan nie sê ons is afhanklik van God, maar in tussen plaas ek in my lewe al my gewig op onsself nie.
Die vraag wat ons vir onsself moet afvra is: Leef ek en jy in afhanklikheid van God soos ons behoort te lewe? Besef ons dat Jesus die brood is wat lewe gee, die versorger, die voorsiener? Ons as Christene sê ons glo in Jesus. Die vraag wat ek vir myself en vir elkeen van ons wil vra is: Glo ons werklik in Christus soos ons behoort te glo? As dit so is, wonderlik! As dit nie so is nie, is dit tyd dat ons iets daaromtrent doen.
Erediens, Sondag 18 Februarie 2018
Ds Louis Pienaar neem die diens waar om 08:30.
Die tema is “Ek is die lig vir die wêreld.” Johannes 8:12
Gedenkdiens: Ds Darius Botha
Soos dit waarskynlik aan almal reeds bekend is, is Ds. Darius Maandag oorlede.
Ons innige meegevoel met Karen en die res van die familie. Mag die Here julle vertroos en dra deur hierdie tyd. Ds Darius Botha was leraar by NG Nelspruit-Suid vanaf 1997 tot 2008.
Hiermee die besonderhede van sy gedienkdiens:
Dag van verootmoediging vir reën in die Kaapprovinsie
Daar word vandag, 14 Februarie landswyd gebid vir reën in die Kaapprovinsie. Die kerkklok sal om 12:00 lui en dan sal die kerk tussen 12:00-13:00 oop wees vir enige iemand om daar te kom bid. ‘n Uitdeelstuk wat hieronder afgelaai kan word, dien as begeleiding vir gebed vir reen asook verootmoediging. Die dokument sal ook by die kerk tussen 12:00-13:00 beskikbaar wees. Lidmate is welkom om by die werk of hulle huise ook te bid.
Klik hier om die dokument af te laai
Helpende hande
Ons benodig dringend die volgende vir ‘n gesin in die gemeente: TV, wasmasjien, tuimeldroër, sitkamerstel. Kontak dr. Jean indien jy die gesin wil help asb.
Ons benodig die volgende vir Huis Betlehem: Grassnyer, Kantsnyer , Snoeiskêr, Skaapskêr, Stofsuier, ‘n dubbelbed matras of basis en matras vir ons huisouers in Witrivier. Kontak Mariaan Louwrens Selfoon: 079 490 5095 / E-posadres: betlehem@vodamail.co.za
Gemeente-ete op Sondag 25 Februarie
Daar is plek vir 150 mense om heerlik saam te eet en te kuier. Koste is R50pp. (Heerlike Bobotie en geelrys, soetpampoen en boontjies asook roomys). Bring jou eie eetgerei en drinkgoed. Ons kuier lekker in die saal. Koop vroegtydig jou kaartjie om teleurstelling te voorkom. Kaartjies is Sondae beskikbaar by die kerk en weeksdae by die kerkkantoor (07:30-12:30).
Hamburger drive-thru
Ons almal weet hoe moeg ‘n mens kan wees op ‘n Vrydag! Al wat jy wil doen is, skoene uit skop, die gesin in die oë kyk en rustig raak. Natuurlik is almal in die gesin honger en dan moet daar eers kos gemaak word.
Vir Vrydag 2 Maart het ons vir jou en jou gesin ‘n oplossing. Daar sal Vrydag, 2 Maart, ‘n Hamburger drive-thru by die kerk wees. Dit is ‘n Lekker hamburger en ‘n koeldrank vir net R50.
Jy kan kaartjies met kontant kom koop by die kerkkantoor vir die geleentheid. Die ander opsie is om Sondag na kerk kaartjies te koop by die jeug afgevaardigde. Ondersteun ons jeug en kom geniet jou Vrydag sonder die stress van kos maak.
Jong Volwasse selgroep
Is jy dalk ‘n jong avontuurlistige volwassene in hierdie wilde woeste wêreld? Is jy opsoek na ‘n plek waar jy net kan behoort?
By die jong volwasse selgroep kom dié wat klaar met skool en onder 30 is bymekaar om vriende te maak en om saam met ander – wat dieselfde dink – te praat oor God se Woord. Natuurlik kuier ons saam met mekaar en saam met die Here.
Join ons op Dinsdae aande om 18:30 in die lapa by die kerk. Kontak Johan Koen 082 393 2944.
Bybelskool
Bybelskool word gerun op ‘n “vir die tieners – van die tieners” basis. So is jy dalk tussen die ouderdom van 13 en 18? Hier is vir jou ‘n geleentheid om te hoor wat die Here sê en om ook jou insette te lewer tussen mense wat na jou gaan luister.
1 Timoteus 4:12 en 14 sê: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” “Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie…”
BELANGRIKE NOTA
Al is dit so dat Bybelskool vir ons baie belangrik is en dat ons dit nie graag wil misloop nie, weet ons dat daar ander verantwoordelikhede ook is. Die skole het Woensdag aand hulle geesvang en daarom gaan ons net vir hierdie week nie Bybelskool hê nie. MAAR, volgende week hardloop ons weer met Bybelskool en ons sien baie uit daarna om die tieners daar te sien.
Juventas
Ons nooi al die Gr. 1-6 ouers uit om op Donderdae aande hulle kinders Lapa toe te bring om saam te kom speel, die Here te loof en Prys en te hoor wat sê die Bybel.
Ons wil ook Juventas se veiligheid opskerp, daarom vra ons elke ouer om die kinders te registreer sodat julle kan weet dat julle kinders veilig is.
Dit is so belangrik dat ons die kinders leer van Jesus want Hy het self gesê “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” (Lukas 18:16)
Pastorie te koop
Bybelkuns oggende oor die “Ek is” uitsprake
Kom reis deur die boek Johannes en staan stil by die ‘Ek is‘ uitsprake aan die hand van ‘n bybelstudiereeks deur Dr Jean Strydom.
Ons eerste byeenkoms is die 17de Februarie en dit word gevolg deur nog 2 byeenkomste, 17 Maart en 21 April. Ons gaan tydens elke byeenkoms 3 uitsprake kunstig uitbeeld.
Bring jou Joernaalbybel, een van jou ou Bybels, ‘n leë joernaal, psalmboek of ou dagstukkieboek en kom geniet ‘n kunstige kuieroggend.
Bespreek asb voor Donderdag 15 Februarie by Marnelle 082 822 1923. ‘n Pakkie vir elke uitspraak word vir elkeen voorberei.
Indien jy onseker is oor wat Bybelkuns behels is jy meer as welkom om te kom inloer Saterdag. Kom drink ‘n koppie tee en sien al die tegnieke wat ons gaan leer.
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.