Boodskap vir die week
Teks: Matteus 13:44 en Filippense 3:7-13
Boodskap:
Ons almal het al skatte in ons lewens gehad. Party skatte was dalk meer werd as ander. Veral as ‘n mens ‘n kind is dan is daar ‘n stuk opgewondenheid, ‘n stuk avontuur in die soek na skatte. Vandag nog is daar verskeie reekse op televisie en films wat gemaak word oor die soeke na skatte. ‘n Skat is iets wat baie waardevol is, iets kosbaars. Dit is nie noodwendig iets wat finansieël baie werd is nie. ‘n Skat is ook nie noodwendig iets wat ons verdien nie.
Jesus kom leer ons dat die Koninkryk van die hemel is soos ‘n skat wat wag om deur mense ontdek te word. Hierdie skat oortref alles in waarde en niks is meer waardevol as om deel te word van God se Koninkryk nie. Paulus is ‘n mooi voorbeeld van iemand wat besef het dat al die goed wat vir hom eers belangrik was, waardeloos en nutteloos is in vergelyking met dit wat God ons bied. Al hierdie ander goed is maar aardse goed wat tot niet gaan maar dit wat God ons bied, is ewigdurend.
Maar om hierdie skat jou eie te maak, gaan opofferings van my vra. Jy gaan moet bereid wees om dit wat jou verhinder om hierdie skat joune te maak, moet opoffer. Jy gaan jou fokus moet verskuif dat jy op God fokus. Jy gaan God daadwerklik die belangrikste in jou lewe moet maak.
In Matteus 19 kry ons ‘n hartseer verhaal. ‘n Ryk jongman is in gesprek met Jesus en hy wil graag die skat wat God kom aanbied, sy eie maak. Maar hy draai bedroef van Jesus af weg omdat hy nie bereid was om dit wat skeiding maak tussen hom en God, af te lê nie.
Kom ons kies opnuut om soos Paulus God en sy Koninkryk die belangrikste in my lewe te maak. Kom ons kies opnuut vandag om so te leef dat ons ander sal help om ook hierdie skat te ontdek. Die skat van die ewige lewe wat ons verkry deur ons persoonlike verhouding met Jesus Christus. Die skat van ‘n burger wees van die Koninkryk van die hemel.
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat U hierdie skat ook vir my kom aanbied het. Help my dat ek weer opnuut sal besef dat niks hier op aarde dit in waarde oortref nie. Dankie Jesus Christus dat U dit moontlik gemaak het vir my om hierdie skat my eie te maak. Heilige Gees help my asseblief om so te leef dat ek ander ook sal help om hierdie skat te ontdek. Amen
Om na die klankopname van die preek te luister, klik hier
Klik hier om die donasie / bydrae lysie af te laai
Die teetuin benodig asb die volgende vir Vleisfees:
Skenkings in die vorm van koeke/terte:
Melktert, Wortelkoek, Lemon Meringue, Sjokoladekoek, Brownies, Peppermint Crisp Tert
Bestandele vir sout goedjies:
Roldeeg, kaas, bacon, bruismeel, eiers en maalvleis.
Melk en suiker skenkings
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit