13 September 2017


Boodskap vir die week

“Geestelike Posisionering Sisteem – GPS”

Teks: Psalm 25:4-5: “ maak my U wil bekend, Here, leer my U paaie. Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.”

Boodskap: Ons is almal redelik bekend met ʼn “GPS” of te wel Globale Posisionering Stelsel. ‘n Handige Kersgeskenk, vir die man in jou lewe!

Die oulike ding kan jou presies sê waar jy nou is, en waarheen jy oppad is. Vandag hoef ons nie meer met ʼn padkaart te sukkel, in die kar nie! Hoef die manne ook nie meer te stop om padaanwysings te vra nie! Net soos ons die koördinate van ons eindbestemming in die GPS intik, net so het God ook vir elke mens op aarde ʼn eindbestemming in gedagte. Jy kan ook hierdie koördinate in die Bybel vind, Jesus verwys baie daarna! Wanneer ons nie die roete volg wat die GPS in gedagte het nie, gaan daai stemmetjie jou gereeld maan om van roete te verander.

God praat ook met ons deur die Heilige Gees. Hy waarsku ook as ons van Sy beplande roete afwyk. Net soos ons nie die GPS kan ignoreer nie, die stemmetjie kan nogal knaend wees, net so moet ons ook nie die Heilige Gees ignoreer nie. Somtyds vat jy per ongeluk die verkeerde afdraai en bevind jy jou op ʼn gevaarlike roete. God sal jou nooit in die steek laat nie.

Net soos die GPS vir jou ʼn alternatiewe roete bepaal, net so sal Hy jou ook uiteindelik by jou bestemming uitbring, al is dit nie die roete wat Hy aanvanklik voorgestel het nie. Laat jou net lei, deur Sy waarheid.

Luister vandag of jou GPS nie dalk waarsku dat jy in ʼn verkeerde rigting oppad is nie. Vertrou op die Heilige Gees, Hy sal jou te alle tye op die regte, bekende roete hou! As jy twyfel, gaan maak seker in die Woord, presies waarheen God met jou oppad is. Rig weer jou fokus op jou Hemelse eindbestemming!

Gebed: Jesus, dankie dat U my altyd lei op my lewenspad. Vergewe my as ek somtyds afwyk van die plan wat U met my lewe het!  In Jesus naam, Amen.

 

Eredienste

Sondag 17 September

  • 08:30 – Oggenddiens Dr. Jean Strydom
  • 18:00 – Koinonia byeenkoms

 

Gemeentekamp

Die afgelope naweek het ‘n groot aantal van ons gemeentelede lekker gekamp by Mankele.  Een van die hoogtepunte was die kosmaak, oftewel KampeDoor, kompetisie! Die volgende foto’s bied ‘n terugblik op die heerlike samesyn en aktiwiteite van die naweek.

Besoek gerus ons Facebook blad vir meer foto’s wat tydens die naweek geneem is.

Baie dankie vir elkeen wat deelgeneem het aan hierdie heerlike byeenkoms.  Volgende jaar maak ons weer so!

Huis Betlehem – Gholfdag op 28 September 2017 @ Nelspruit Gholf Klub

Nelspruit-Suid ondersteun altyd Huis Betlehem, daarom dat ons hierdie Gholfdag aan julle bekendstel.

Indien daar iemand is wat hierdie dag wil borg kan u net vir Ann van der Merwe skakel by 060 783 8941 of epos by annvdmerwe@yahoo.com.

Meer volledige inligting oor borgskappe is beskikbaar, laai bloot die dokument af deur op die blou skakel hieronder te klik.

Klik hier om die dokument af te laai

 

14 Oktober 2017: NG-Suid Dames Tee

 

NG Suid se Fees-Vrydag: 3 November

Dis Nelspruit-Suid se Fees-Vrydag!

Heerlike saamkuier en natuurlik sal daar baie te koop en te ete wees. Onthou om jou geld vir die groot vleistafel gereed te kry. Vleis teen uiters bekostigbare pryse beskikbaar wees!

Navrae: Dr. Jean Strydom 083 572 4886

 

Geloofsoffer*

Waar staan ons nou?

*Vriendelike versoek t.o.v. geloofsoffer:

Inbetalings t.o.v die geloofsoffer moet asseblief gespesifiseer word sodat dit korrek geallokeer kan word.

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.