Boodskap vir die week
Teks: Habakuk 3:17-19
Tema: Dankbaarheid in moeilike omstandighede
Boodskap: Die lewe is nie altyd maklik nie, soms loop dinge lelik skeef. Die vraag is natuurlik hoe tree jy as Christen op te midde van moeilike omstandighede? Die Woord wat ons riglyn is sê byvoorbeeld in 1 Tess 5:18 dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees, want dit is wat God in Christus Jesus van ons verwag. Paulus skryf ook in Fil 4:4 dat ons altyd bly moet wees in die Here. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan. As dinge reg loop dan kan ons maklik dankbaar wees, die teendeel is gewoonlik waar as dinge skeef loop.
In Habakuk 3 lees ons hoe moeilik dit gaan. Dis waarlik ‘n wanhopige situasie. Tog lees ons hoe Habakuk sê dat hy ten spyte van die omstandighede steeds in die Here sal jubel, dat hy sal juig in God sy redder. Dis waar ons ook wil wees. Ons lees in Hand 16 hoe Paulus en Silas in die tronk psalms en lofliedere sing. Wat is die geheim?
Niemand is dankbaar vir slegte omstandighede nie, maar die Woord sê dat ons steeds dankbaar kan wees te midde van slegte omstandighede. Die geheim daarvan lê in dit wat Paulus skryf in Kol 2:7-9 en Kol 3:3. In hierdie gedeelte sê hy dat jy op ‘n besondere manier aan Christus verbind is, ook dat jy in Hom gewortel is. Die wete moet jou met dankbaarheid vul. Hy sê ook dat jou lewe saam met Christus verborge is in God.
Elke keer as ek myself in moeilike omstandighede bevind, moet ek weet dat ek aan Christus verbonde is, in Hom gewortel en gegrondves. Hy as die oorwinnaar sal my deur die omstandighede dra, en daarom kan ek te midde van die omstandighede steeds dankbaar wees.
Lees ook die beloftes wat in die Woord is: Joh 16:33; Matt 28:19-20; 1 Pet 1:3-9; Jes 41:8-10.
Gebed: Dankie Here dat as dinge om my donker is, ek weet dat ek in U gegrondves is en U beloftes sal my daardeur dra. Daarom jubel en juig ek in U. Amen.
Verdere studie oor die tema: Bestudeer gerus die meegaande Bybelstudie/Toerusting
Om na ‘n klankbaan van die preek te luister, klik hier.
Foto’s: Kersete vir Seniors
Kerssangdiens
Geloofsoffer
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit