Hierdie week se Boodskap
Boodskap:
Ek glo meeste van ons het al die tydsverloop gesien van die proses waar ‘n ruspe in ‘n skoenlapper verander? Dit is een van die wonders van God se wêreld dat sulke drastiese transformasie plaasvind. Waar daar eens ‘n lelike, omslagtige vuil ruspe was wat van een blaar na die volgende blaar beweeg het, is daar nou hierdie ongelooflike skoenlapper wat geen ooreenkoms van sy vorige self dra nie.
Hoe sal dit nie wees om deur so ‘n drastiese en ongelooflike verandering te gaan nie. Om soveel meer te word as wat jy voorheen was, deur die buitengewone innerlike werk van die Gees van God.
Die Bybel sê dat hierdie wonderbaarlike van binne na buite verandering is die ervaring van elke opregte gelowige. Inteendeel die einste woord wat gebruik word om die transformasie van ‘n ruspe na ‘n skoenlapper te beskryf, word gebruik om God se werk in sy kinders te beskryf. Die woord is metamorfose – en God het dit in gedagte vir jou!
Metamorfose – die stam woord morfe beteken “vorm” of “natuur”. Die verwys na die regte innerlike essensie van ‘n persoon of wese. As die woord van toepassing is op jou, sal dit die ware jy beskryf, die ware natuur van wie jy is en hoe dit na buite toe gewerk word in jou gedrag.
Hierdie is die woord wat gebruik was om Jesus te beskryf, toe Paulus verduidelik het dat Jesus nie in bestaan gekom het soos ons nie, dat voor sy geboorte uit die moederskoot van Maria, het Hy in ewigheid bestaan. Paulus sê dat Jesus was in die vorm/aard (morfe) van God – bedoelende dat Jesus was in sy natuur, in sy essensie, God (Fil. 2:6).
Nou vat die stam idee en sit die Griekse voorvoegsel meta by die woord en die betekenis is dan “om die essensiële natuur van iets of iemand te verander”. Dit is innerlike werk wat groot gevolge het vir ons uiterlik lewe. Dit is metamorfose!
So aangesien God ons van binne na buite toe verander, hoe presies lyk Christelikheid dan aan die binnekant. En hoe word dit uitgeleef in my lewe? In verse 2-6, gee Paulus aan ons vier houdings/ingesteldhede wat die grondslag is van die Jesus lewe, wat Hy deur ons wil lewe.
Beskeidenheid/Nederigheid (tapeinorfrosunēs)
Die ou filosoof Aristoteles het nederigheid beskryf as ‘n middelpunt tussen twee uiterstes. Vir hom het nederigheid beteken om die geskikte balans te vind in die lewe. Nederigheid hou ‘n goeie ewewig – dis om ‘n stabiliteit te hê, wat nooit sal wankel of beweeg kan word tussen die uiterstes nie. Dink aan Jesus se aardse lewe, alles van Hom was vir ons ‘n voorbeeld van beskeidenheid. Beskeidenheid sê, “Die musiek is nie wat ek verkies nie; die koffie is te sterk en die tee is te flou; ek hou nie van die kerk se vloere nie, maar dit is alles in die haak, want wat ek wil hê is nie die bepalende faktor nie, wat goed is en tot geestelike groei lei vir ander, dis die bepalende faktor. Dit is wat Jesus gedoen het.
As jy die middelpunt is van jou aandag, wat gedryf word deur jou begeertes, en jy druk om dinge op jou manier gedoen te kry, aanspraak maak op jou regte, dan benodig jy meer metamorfose – dan is jy nog nie soos Jesus nie.
Sagmoedigheid/vriendelikheid (praütētos)
Sagmoedigheid was die beste geïllustreer deur ‘n dier wat mak gemaak word – die wilde gees en natuur van ‘n dier wat onder beheer gebring word deur sy eienaar. Dit is ‘n mooi beskrywing wat iets sê oor die “dier” in ons wat onder beheer gebring word deur die Gees van God. Sagmoedigheid is nie swakheid nie, maar sterkte of krag onder beheer. Daarom is nederigheid of dan te wel sagmoedigheid die vrug van die Gees wat ons onder God se beheer bring. Ook hierin wys Jesus vir ons die perfekte voorbeeld, Hy kon doen wat Hy wou hier op aarde, maar Hy het nie, Hy het Homself oorgegee aan die Vader se wil en plan.
Sukkel jy daarmee om sagmoedigheid deel te maak van jou daaglikse lewe?. Het jy ‘n reputasie as iemand wat moeilik is, iemand wat ander mense op hulle plek sit en wat goed is met die speletjie van kerk politiek?
Dis ‘n goeie aanwyser dat jou lewe uit balans is met jou identiteit as ‘n Christen. Jy leef dan nie soos Jesus nie.
Geduld/lankmoedigheid (makrothumias)
Die woord “makrothymia” is ‘n saamgestelde Griekse woord wat saamgestel is vanaf “makro” wat lank beteken en “thymia” wat woede beteken. So letterlik beteken dit “lank tot woede” teenoor die woord “oxythymia” wat beteken “skielike woede”. Geduld is die langdurige beheer van woede. Geduld is liefde wat uithou, dit is duursaam en dit breek nie so maklik nie.
Geduld gaan oor hoe jy frustrasies en ongerief en vertragings, moeilike mense en uitdagende omstandighede hanteer. Jy vertrou dat God is in beheer van sy omstandighede. Ook hierin is Jesus vir ons die beste voorbeeld (Heb. 12:2-3). Wil jy soos Jesus wees? Dan moet hierdie geduld jou merk.
Verdra mekaar in liefde (anechomenoi)
Hierdie beteken letterlik om opgeskeep te sit met mense. In Lukas 9:41, lees ons dat Jesus maar ook mense moes verdra, “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet EK nog by julle wees en julle verdra?” Dinge was nie soos wat Jesus dit wou hê nie. Maar Hy het dit verdra.
Om mekaar te verdra in liefde, beteken om ander mense te verdra met hulle verskille, eienaardighede, irriterende gewoontes.
Hierdie is die ingesteldhede of die houding waaraan ons lewens geken moet word, as ek my lewe leef in balans met Jesus. Soos met Jesus, moet daar nederigheid, sagmoedigheid, geduld en verdra mekaar in liefde wees in my daaglikse lewe.
Elkeen van hierdie ingesteldhede gaan oor verhoudings. Jy kan nie praat oor nederigheid of sagmoedigheid sonder om by mense te wees nie. Jy kan nie jou geduld toets of meet of ander in liefde verdra as jy nie tussen ander mense is nie.
Die kerk is een van die klaskamers waar God geestelike volwassenheid oordra. Die hele konteks gaan oor die kinders van God. Om te groei in ons geloof is ‘n gemeenskap van gelowiges projek. Die kerk is die kweekhuis of broeikas waar dit gebeur. Daarom is dit so belangrik om gereeld saam bymekaar te kom met die mense van God, waar sy Gees kan werk om hierdie eienskappe te vorm in ons.
Wanneer God ons karakter wil vorm, gee Hy nie ‘n “to-do” lysie vir ons nie. Hy sit ons in ‘n gemeenskap/familie met medegelowiges waar die beeld van Jesus Christus gestempel word op ons wese. Ons word geroep om van binne na buite toe verander te word om in woord, daad en lewenswyse meer soos Jesus te word.
Wat sê jy? Wat is jy besig om te word? Is jy besig om soos Jesus te word?
Om na ‘n volledige klankbaan van hierdie preek te luister, KLIK HIER.
Preekopnames
Die gemeente beskik nou oor ‘n eie YouTube rekening wat dit moontlik maak om klankopnames van preke beskikbaar te stel.
Skakels na die onderskeie preke is op ons webblad beskikbaar.
Klik hier om na preke te luister
Ietsie oor Huisgeloof
Ek wil graag vra dat jy saam met jou huis Deut. 6:4-9, sal lees. Wat sê hierdie teksgedeelte vir jou oor jou huisgesin?
Die term “huisgeloof” word deesdae dikwels gebruik. Waarna verwys dit?
Gemeentes ontdek vandag opnuut dat geloofsvorming grootliks by die huis plaasvind (soos Deut. 6:4-9 ons wil leer). Jare lank het mense gedink ’n mens neem jou kinders kerk toe en daar leer hulle primêr van God. Vandag besef ons die huis en kerk vorm ’n span en albei hierdie ruimtes is belangrik vir geloofsvorming. Huisgeloof verwys na gesinne (mense wat saam in ’n huishouding woon) wat saam hulle geloof uitleef en beoefen. Geloofsvorming in ’n huis kan vergelyk word met ’n tafel wat vier pote het: kennis, verhoudings, aksie en aanbidding. Dit beteken geloof word nie net deur kennis in die huis gevorm nie, want dan sal die tafel wankel. Fasette soos goeie verhoudings met mekaar, om geloof prakties uit te leef (aksie) en geloofsbelewenisse te ervaar (aanbidding), vorm alles saam ’n eenheid om die tafel sterk te laat staan.
In gemeentes moet ons ouers (of grootouers of voogde) bemagtig om saam met hulle kinders verskillende maniere te ontdek om in die geloof te groei. So versterk en vorm ons mekaar se geloof in huis. Vandaar die term “huisgeloof”.
Die prentjie hieronder gee vir ons ‘n duidelike idee, wat bedoel word met huisgeloof en waarom dit so belangrik is vir ons en elke ander gemeente, wat wil erns maak met hulle geloof en die vorming daarvan.
Verander van Binne na Buite
‘n Nuwe reeks preke met die tema Verander van Binne na Buite het Sondag, 3 Februarie afgeskop. Boekies wat die onderwerp in geheel dek, is steeds beskikbaar teen R10 elk.
Jeugbediening
Sondag 17 Februarie
…is ‘n baie belangrike geleentheid vir al ons Gr. 1 lidmate.
Julle en julle ouers moet nie Sondag se erediens mis nie, daar wag ‘n baie groot verrassing vir julle!
Sien julle Sondag, maats!
Imagine 29-31 Maart 2019
Samekoms van derduisende Suid-Afrikaanse tieners vir ‘n naweek van lofprysing, lewensverrykende toerusting, en die opbou van ‘b beter Suid-Afrika vir almal!