12 Septeber 2018


Hierdie week se Boodskap

Tema: ʼn Hart vol van God

Teks: Matteus 6:10a “Laat U koninkryk kom..”

Boodskap: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor ” (Matt.12:34). Jesus se eie woorde, en tog vandag steeds op elkeen van ons van toepassing. Die dinge wat in jou hart leef, gaan die een of ander tyd by jou mond uitborrel. Dit is nie iets wat jy kan keer nie! Dit geld ongelukkig vir die goeie en die slegte dinge. Maar kom ons fokus vandag eerder op die goeie dinge. As ek ʼn kind van God is, leef Hy in my. Die Heilige Gees lei en leer my. In Ef. 3:19 bid Paulus dat die Efesiërs vervul sal word, met die volheid van God. Hy bid dat hulle God se liefde so intiem sal leer ken, dat hulle harte vol sal word daarvan. Dat hulle monde uiteindelik sal oorloop van die goeie nuus! Die koninkryk van God, het reeds met die geboorte van Jesus gekom.

Ek dink Paulus bid ook hierdie gebed vir elkeen van ons vandag. Dat ek en jy ook God se liefde so persoonlik sal ervaar, dat ons nie anders kan, as om daarvan te getuig nie. God is liefde, Sy koninkryk bestaan uit liefde en Sy vergifnis word gebore uit liefde. So as kind van God, moet liefde ook die meerderheid van my hart se volume vul. As wedergeborene, moet jy die liefde wat die boustene van God se koninkryk is, in jou hart saamdra. Jy moet ook daardie einste boustene gebruik, om deur middel van jou woorde en dade, God se koninkryk hier op aarde uit te bou. As jou hart vol is van die dinge van God, dan gaan jou mond oorloop van die God van die dinge! Danksy Jesus, leef die koninkryk van God voort, in ons harte. As ons dus bid vir die koms van God se koninkryk, dan vra ons eintlik vir die beskerming daarvan. Die koninkryk van God leef in my hart, en dis my plesier om met my mond, die heerskappy van God uit te brei!

Gebed: Jesus, ek bewonder U wysheid. Dankie dat ek ook my deeltjie kan doen, ter uitbreiding van U koninkryk. Amen.


 

Kan jy dalk help?

Daar is verskeie mans en vroue in die gemeente wat tans werkloos is.

Indien jy weet van enige vakante posisie wat nog nie in die Laevelder of iewers geadverteer is nie, kontak dr. Jean (083 572 4886) of ds. Louis (082 878 1743).

 


 

Vleisfees: 2 November 2018

Dis reg, ons hou hierdie jaar weer ‘n Vleisfees!

Wil jy ook graag betrokke wees by hierdie wonderlike geleentheid? Op ons webblad is ‘n vorm wat jy kan aflaai om aan te toon hoe en waar jy betrokke kan raak.

Klik hier om die vorm af te laai

 


Kom kuier saam!

 

 

Jeugbediening

 

 

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.