12 Julie 2017
So midde-in die wintervakansie wil ons die hoop uitspreek dat dit met jou goed gaan.
Hierdie week het ons ‘n verkorte Midweek waarin ons graag die weeklikse boodskap met jou wil deel. Daar sal volgende week nie ‘n Midweek-uitgawe wees nie, ons hervat weer die 26e Julie met ‘n volwaardige nuusbrief.
Mag jy hierdie week geseën word met alles wat jy aanpak.
Boodskap vir die week
Tema: Geloofsreis en Vrese
Boodskap: Elkeen van ons het al op een of ander stadium vir iets gevrees. Sommige mense se lewe is gevul met vrees. Ons leef in uitdagende tye en dit kan maklik gebeur dat sekere omstandighede vrees by jou kan skep. Vrees is een van die eerste emosies wat ons in die Bybel vind. Ons lees reeds in Genesis 3: 10 dat die mens God antwoord deur te sê: “…ek het bang geword…”
Ons lees ook op verskeie plekke regdeur die Woord hoe die Here keer op keer vir mense en sy volk moet sê: “Moenie bang wees nie”. Ja, die Here wil vandag vir jou dieselfde sê: “Jy moet nie bang wees nie”. In Fil 4:4-7, help Paulus ons om met ‘n bepaalde gesindheid te leef. Hy beveel aan dat ons, ons vreugde in die Here moet vind. Die Bybel gaan nie op elke vrees van jou ‘n spesifieke antwoord gee nie. Daar is nie altyd redes nie.
Paulus beveel aan dat ons ingesteldheid in die lewe reg moet wees. Hou vas aan die Here (Ps. 23) en weet dat die Here naby is. Hy is die een wat beloof dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Die Bybel sê voorts dat die Here ons sy vrede sal gee om oor ons hart en gedagtes die wag te hou. Onthou dat volgens 1 Pet. 1:5-7 sal die Here jou bewaar vir jou plek in die hemel. Daarom, moet ek en jy nie bang wees nie. Die Here is naby jou (Matt 6:25-34 en Matt 10:26-31).
Gebed: Vader baie dankie dat ek my vertroue in U kan plaas. Dankie dat U my nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Amen
Eredienste
16 Julie 2017
- 08:30 – Oggenddiens Dr. Jean Strydom
- 18:00 – Koinonia byeenkoms
Prys die Heer!
Draai die volume so bietjie harder en luister na die pragtige lied!
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.