Hierdie week se boodskap

 

Tema: 20-20 Visie – Kyk anders na God

Teks: Lukas 15:1-3; 11-32

Boodskap:

Ons almal het ‘n kyk wat ons vir mense gee, wat baie meer van onsself verklap as wat ons dink. Maat het julle geweet God het ook ‘n kyk en sy kyk sê vir ons presies wie Hy is en daaroor wil ons vandag praat, om iets van God se kyk te ontdek, sodat ons op ons beurt ook nuut, vars en anders na God sal kyk en wanneer ons iets van God se kyk snap, sal dit ons lewens vir altyd verander.

Ons oë is nie so betroubaar soos ons dink nie. Dit sien wat ons brein wil hê dit moet sien. Dit doen predicitve coding. Dit voorspel wat ons gaan sien, of wat ons behoort te sien en dan sien ons dit. Dit laat ons onder groepsdruk sien wat ander mense sien en nie wat ons moet sien en wat voor ons oë is nie.

Ons velcro-brein maak dat ons liewer negatiewe dinge raak-kyk, en dan waag baie mense nog om te sê: Sien is glo! En dit terwyl hulle siende blind is. Ons kort ‘n Godgegewe blik – een wat sal maak dat ons die wêreld anders bekyk en ander mense vars raaksien. Jesus se soort oë is presies wat ons kort.

Ons oë speel ‘n merkwaardige rol in ons lewens, en van dit is dalk juis die redes, waarom ons geestelik blind is en waarom ons God nie raaksien vir wie Hy werklik is nie, en daarom sukkel ons soms om God te verstaan, onsself te verstaan, ander mense te verstaan. In Lukas 15 sien ons, hoe God kyk, en God se kyk verander Hom en dit sal ons ook help om anders na te God kyk en om Hom raak te kyk/sien vir wie Hy werklik is.

In hierdie storie is daar twee seuns, ‘n rebelse jong seun en die verbitterde oudste broer. Tussen hulle twee staan hulle jammerhartige pa wie se hart oorloop van liefde en deernis vir albei sy seuns. Hierdie pa is God self. Die klem val op die PA in Jesus se vertelling.

In die eerste deel van hierdie mooi gelykenis hoor ons van die jongste seun wat sy pa tegnies dood verklaar deur sy erfporsie op te eis terwyl sy pa nog leef. Dan gaan mors hy al sy geld uit. Later toe hy niks meer oor het nie en met ‘n klomp varke om oorskietkos moet veg, besluit hy om terug te gaan na sy pa se huis.

Hy weet hy het sy reg verbeur om ‘n kind in sy pa se huis te wees. Tog onthou hy sy pa se goeie hart; daarom besluit hy om sy pa te gaan vra of hy dalk as ‘n werker daar in diens geneem kan word. Die jongste seun het geweet daar is ‘n groot risiko verbonde aan so ‘n stap. Dit kon hom sy lewe kos. In daardie tyd was die glad nie vreemd dat dorpsmense en ander familielede “honour killings” uitgevoer het op mense wat hulle familie se naam deur die modder gesleep het nie.

Die Vader se kyk doen ‘n paar dinge aan Hom, wanneer Hy sy verlore kind raaksien. Die hardlopende, soenende, omhelsende, feesvierende vader. So skets Jesus hier vir God. Sy Vaderhart smelt met medelye wanneer Hy se verlore kind raak kyk. Letterlik splagnitsein God se hart. Splagnitsomai is een van daardie vergete Griekse woorde in die evangelies wat Jesus sy Vader se omgeehart beskryf. Dit dui op diep medelye en innige meegevoel. So sterk is hierdie meevoel met ander mense dat die ou Grieke hierdie woord ook met die roering van ‘n mens se ingewande in verband gebring het. God se binnekant roer regtig van diep omgee, vreugde, en deernis toe Hy sy verlore kind daar op die horison gewaar.

Dan staan Hy op en begin na hom toe hardloop. Die Vader steur Hom net mooi niks aan enige konvensies nie. In daardie tyd was dit nie gepas om ligweg met skandemakers om te gaan nie. Deut. 21:18-21 het selfs aan ‘n benadeelde pa toestemming verleen om so ‘n kind dood te maak.

Maar hierdie Vader het nie sulke planne nie. Hy wil net weer sy kind in sy arms vashou. Daar was nie tyd vir statigheid of vir kamma-kwaad nader stap nie.

Die Vader wou sy kind met genade en vergifnis oorspoel voordat die kritikasters en klipgooiers opdaag. En voordat die oudste broer, wat nie sy Vader se hart verstaan het nie, met sy liefdelose verwyte op die toneel verskyn.
Wanneer die Vader by sy wegloopkind aankom, omhels Hy hom dadelik. Lukas gebruik ‘n idioom vir hierdie liefdes-handeling wat letterlik beteken om iemand om die nek te val. Met groot liefde en diep emosie verwelkom die Vader sy kind terug in sy arms. God druk sy seun baie styf vas. God soen hom terug met groot liefde.

Nee, dit is nie ‘n uitgestrekte vinger in die rigting van die wegloopkind wat die Vader hier in Lukas 15 opsteek soos in die Sistynse Kapel in Rome nie. Gaan kyk gerus weer na Michelangelo se uitbeelding teen die plafon van die kapel waar die vinger van God op die punt is om aan die van die mens te raak. Aangrypend!

Dit is daar waar God en die mens se verhouding begin het. Maar die amptelike storie van God, soos Jesus dit self vertel – en Jesus ken God se hart die heel beste van almal – is selfs nog mooier as dit. God doen baie meer as om oor te leun en sy vinger na mense uit te steek. God gee Homself. Hy val sy wegloopkinders om die nek met liefde. Hy omhels hulle. Hy soen hulle.

Al wat nodig is om God aan die hardloop te kry, is om sy verdwaalde kind, wat stukkend en verlore op die horison aangesukkel kom, raak te sien. Dit laat God se hart smelt. Dit laat Hom splagnitsein. Dit maak dat God opstaan, hardloop, omhels en soen. God soen sy verlore kind letterlik terug en tuis.

Katafilein, die Griekse woord wat hier gebruik word, verwys na die soen van liefde en omgee. Presies so soen die Vader sy hart oop teenoor ‘n kind wat Hom tegnies dood verklaar het. Wat ‘n tuiskoms! Hierdie soenende, omhelsende God se liefde ken geen perke nie. Sy styl is nie om wegloopkinders net amptelik vry te spreek van sy regterlike troon af nie. God se styl is om op te staan en sy kinders te omhels en te soen.

Wanneer die seun in sy Vader se arms staan en al sy verskonings begin uitryg, is die Vader horende doof. Sy kind is by die huis. Dis al wat saak maak. Woorde is oorbodig. Sy omhelsing en sy soen sê dit hard en duidelik. Maar God weet sy kind kort nog iets: ‘n seëlring om te wys hy is terug waar hy hoort. Hy is weer by die huis as ‘n geliefde kind van sy Vader.

Ook kort hy feesklere en ‘n feesmaal. Onthou jy mag nie met rouklere die koninkryk in gaan nie. ‘n Kind wat dood was leef nou weer. Die Vader se hart wat gebreek was, is oorvol vreugde. Presies so ontvang God vandag nog sy wegloopkinders. Hy soen en omhels ons een vir een terug. Hy soen al ons seerkry weg. Hy sit aan tafel saam met ons en eet feeskos saam met ons. Dit is wat God se kyk aan Hom doen.

Dit is hoe God optree, wanneer Hy na elkeen van ons sy kinders kyk, of jy verdwaal het, of jy van die pad af is, en of jy weggeloop het en jou pa, jou God dood verklaar het, Hy wag op jou en sy kyk aan jou verklaar dat Hy vir jou lief is nes jy is. Kyk anders na God – sien Hom vir wie Hy regtig is – die jammerhartige Vader, jou liefdevolle Vader.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U, my ook raaksien en dat U kyk na my verklaar dat U lief is vir my. Help my en lei my om elke dag U nuut te sien as die God wie se liefde en genade geen perke ken nie. Maak my geestelike oë oop, sodat ek U elke dag nuut en vars kan ontdek as my liefdevolle Vader. Amen.

Klik hier om na ‘n klankbaan van die preek te luister.

 

Jeug

 

 

 

Senior Jeug – Social @ SUID

Op Vrydag 7 Februarie het die Senior jeug van SUID saam met die jeug van Westergloed Gemeente gekuier. Die jongs het saam die Here geloof met Lofprysing, daarna is speletjies gespeel en saam gekuier en worsbroodjies
gebraai. Dankie aan Ds Gerrit en sy span wat hierdie sosiale geleentheid vir die jeug ‘n groot sukses gemaak het!

 

 

 

 

Uitreik na Herfsakker – Kamermaatjie Projek

Baie dankie aan almal se skenkings vir die uitreik na Herfsakker Ouetehuis Uitreik Projek.  Die baba-poppe en sagte speelgoed is uitgegee aan eensame bejaardes om te vertroetel en as kamermaatjie te hê.

 

 

Mannegroep – Kamp 2020

Die Mannegroep het die afgelope naweek ‘n heerlike Wegbreek gehad in Marlothpark. Daar is lekker gekuier, mekaar beter leer ken en heerlik saam kos gemaak. Daar is saam gesing; met mekaar gedeel; stiltetyd gehou langs die Krokedilrivier en regdeur die naweek stilgestaan by die lewe van Dawid en wat ons as manne uit sy lewe kan leer.  Enige man is welkom om deel te word van die Mannegroep.

Vir Meer Inligting:
Johan Kok – 084 657 4851
Ds. Louis Pienaar – 082 878 1743

 

Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit