Hierdie week se boodskap

 

 

Tema: Waar sal my hulp vandaan kom?

Skriflesing: Psalm 121

Boodskap:

Ons almal kort somtyds hulp. As jy in die moeilikheid het, is daar gewoonlik iemand waarop jy kan staatmaak. Tog sal jy saamstem dat daar net een Iemand is wat ons nooit sal teleurstel nie en dit is God. Regdeur die Woord hoor ons hoe mense hulle na God gewend het in moeilike omstandighede en dat Hy hulle altyd gehelp het.
 
Psalm 121 is ‘n pelgrimspsalm. Die reisigers oppad na Jerusalem, het gedurig hierdie psalm vir hulself opgesê, omdat die gevare op die pad so groot was. Hulle het hul veiligheid by God gesoek en in hierdie psalm lees ons hoe hierdie digter ons oortuig dat God die regte Een is om na toe te gaan in tye van nood. Ook nie net in tye van nood nie, maar dat God dag in en dag uit ‘n wakende oog oor jou hou. Dit gee vir my en jou die rustigheid om in hierdie uitdagende wêreld voluit te kan leef omdat God saam met ons is.
 
Gebed: Dankie Here dat U nooit sluimer of slaap nie en dat U beskermende hand altyd oor ons is. Ek loof en prys U daarvoor. Amen
 
Studiestuk oor Psalm 121
 
1 As jy tyd het kyk eers na die preekopname op Youtube. Die skakel is https://www.youtube.com/watch?v=UaGZxpJrzw0
2 Wat is jou grootste vrees in die lewe?  
3 Lees Ps. 121 so twee keer deur en laat toe dat die Heilige Gees met jou praat oor die gelese gedeelte.
4 Wat dink jy van die volgende aanhaling van Benjamin Franklin: “God help those who help themselves”?
5 Niemand van ons is waarlik veilig tot ons by God gaan skuiling vind nie. Kyk hoe verwoord Ps. 91:1-2 dit.
  • Sien raak dat daar 4 verskillende name van God gebruik word in die 2 verse
  • Kyk ook na Ps. 17:8-9
  • Kyk ook na Ps 18:3
6 Berge was deur die eeue ‘n toonbeeld van standvastigheid, sterkte en ewigdurendheid. Hierdie eienskappe wys ook na God. God wat jou wil beskerm. Ter ondersteuning van die gedagte lees:
  • Ps. 90:1-2
  • Ps. 46:2
  • Wat dink jy van Josh Moody se aanhaling: “Nature is not the solution, it points to the Solution”?
7 In die Psalm sal jy agterkom dat God op ‘n besondere wyse na jou kyk. Hy kyk versorgend en beskermend na jou. Hoe laat dit jou voel?
8 Hoe laat dit jou voel om te weet dat God sluimer of slaap nie?
9 Vers 5 se oorspronkliker vertaling sê dat die Here jou skaduwee aan jou regterkant is. Hy is daar vir jou, naby jou! Lees Ps. 91:5-6 wat as ondersteuning dien.
10 In vers 8 sluit die digter af dat die Here jou beskerm waar jy gaan, nou en vir altyd. Dis baie betekenisvol. Lees die onderstaande tekste en dink bietjie na oor dit.
  • Ps. 139:2-3
  • Matt. 28:20
  • Heb 13:8
Probeer so ver moontlik Psalm 121 jou eie maak vir jou eie lewenspad vorentoe!
 

Klik hier om na die volledige boodskap te luister.

 

 Knie-Aksie

Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.

Ria Lourens
Marie Pretorius
Hugo Hamilton
Leon Brugman
Ronel Botha
Christa Moller (Estelle Nieuwenhuys se suster)

Bid asb vir Pieter en Annetjie Briel se kleinseun wat in die hospitaal is nadat hy ernstig beseer is in ‘n motorongeluk.

 

 

 

Klik hier vir meer besonderhede en aansoekvorm