Hierdie week se boodskap
Tema: Kyk anders na jou gemeenskap
Teks: Jeremia 29:1-14
Boodskap:
Jesus se bediening was altyd op die rand en by die randfigure – wat sê dit vir ons as ons praat oor ons gemeenskap. Die kerk het ‘n verantwoordelikheid om die 22ste eeuse kerk te vorm – ons moet ons huidige tyd dien en nie die vorige tyd van die verlede nie – dit is dalk die rede waarom ons so sukkel om kerk te wees in ons gemeenskap, want ons ken nie meer ons gemeenskap nie en ons kyk na ons gemeenskap deur die lens van ‘n vorige eeu.
Wêreldwyd draai die gety teen godsdiens. Godsdiens in watter gestalte ook al, voel vir baie mense na ‘n ongesonde infeksie wat tot elke prys vermy moet word. Gelowiges veroorsaak steeds goeie infeksies wêreldwyd, ten spyte van al die kerklike droogmakery en foute. Om slegte infeksies as die enigste leesbril te gebruik wanneer die kerk ter sprake is, is eensydig. Dit bied nie die volle prentjie nie. Dit is veel minder as die helfte van die skeefgetrekte waarheid.
Ons uitdaging is om vars en nuut te dink oor hoe ons ons geloof stylvol kan naleef en uitleef. Ons kort ‘n nuwe styl – Jesus se styl. Binne-in ons holderstebolder wêreld moet ons, soos die stam Issaskar in 2 Kron. 12:32, goeie tydlesers wees. Ons moet weet wat om te doen en wanneer om dit te doen. Ons moet weet hoe om ons hartsroetes na te jaag, roetes wat die wêreld rondom ons se verbeelding opnuut sal aangryp. Die nuwe tyd van God is reeds hier, want Jesus is hier. As ons ons geloof stylvol wil beleef en uitleef, moet ons meer as net goeie tydlesers wees. Ons moet Jesus-lesers wees, mense wat Jesus reg aanvoel en reg verstaan. Dan kan ons goeie infeksies veroorsaak. Dan kan ons ons geloof stylvol deel.
Kom ons sê dit eerlik vir mekaar: Dinge gaan nooit weer wees soos in die ou dae nie. Die ou dae was goed en mooi, maar ons is die kerk van vandag. Hier en nou moet ons die Here se sout en lig wees. Ons word geroep om sout en lig te wees. Die wêreld het vir baie van ons ‘n veraf en donker plek geword. Gaan doen daarom meer as om die donkerte rondom jou raak te sien. Stap oor die straat. Maak jou hande vuil met ander se swaarkry. Onthou God het jou raak gekyk. Jy het Jesus se genesende oogsalf ontvang. Gaan kyk en leef nou ander raak in sy Naam.
Daar is ‘n paar dinge wat die volk in ballingskap moet weet, om hulle te help om anders na hulle nuwe gemeenskap te kyk. Die eerste is hulle moet floreer daar waar God hulle geplaas het (vers 5-6). Waar jy ook al is, werk saam met God aan sy hemelse werk op aarde. Gaan wees God se fontein van liefde, daar waar jy is.
Die tweede ding wat hulle moet doen is om te bid (vers 7). Hulle moet bid vir die belange van hulle nuwe gemeenskap, asook vir die leiers van hierdie nuwe gemeenskap. God kán ons vra om vir ons vyande te bid, om vir daardie mense te bid wat ons op plekke en posisies laat beland het waar ons regtig nie wil wees nie, want Hy is God en Hy is lief vir ALLE mense – ook vir diegene wat ons nie so liefhet nie; as hulle vrede het, sal ons ook vrede hê; as ons bid – Luister Hy.
Die derde is hulle moet biddend besig bly met God se Woord en beloftes (vers 8-9). Ons moet ons leer om na die regte stemme te luister. Die nuus, koerante en ander vorms van media, gee nie vir ons altyd die waarheid nie. Ons mag nie toelaat dat ons deur slegte raad en vals profete mislei word nie. Bly besig met die Bybel en God se beloftes aan ons.
Onthou God is altyd in beheer, al voel dit nie altyd vir ons so nie. Selfs al draai die wêreld teen ons en dit voel of ons in ballingskap sit, vreemdelinge in ‘n nuwe gemeenskap, God sal ons nooit net so los nie. Hy het ‘n plan vir ons en doel vir ons om uit te lewe in hierdie uitdagende tyd van ons. God se voorspoed, toekoms en verwagting is meestal anders as wat die wêreld dink: Hy kan materiële rykdom gee, maar Hy sal geestelike rykdom gee aan hulle wat hul lewens aan Hom oorgee; Hy kan liggaamlike gesondheid gee, maar hy sal geestelike gesondheid gee as ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens vervul; Hy kan tydelike, aardse voorspoed gee, maar Hy is baie meer opgewonde oor ewige voorspoed in sy kinders se lewens.
Mag die Here vir jou duidelik maak wat jy kán en behóórt te doen… dáár waar jy leef, werk en kerk toe gaan. En mag Hy déúr jou verandering bring wat nie net jou omgewing anders daarna sal laat uitsien nie, maar ook menselewens sal aanraak tot eer van God! Amen.
Gebed: Here smeer asseblief weer ons met U oogsalf, sodat ons nie langer geestelik blind is vir dit wat U van ons vra nie. Help ons om ander raak te sien in ons gemeenskap, lei ons om vir hulle dienaars te wees, soos U Seun Jesus vir ons die voorbeeld was en mag ons sodoende ook ons gemeenskap opbou en uitbou tot U koninkryk. Amen.
Klik hier om na ‘n klankbaan van die preek te luister.
Jean, Louis en Gerrit