Hierdie week se boodskap
Tema: Beloftes van God – Die belofte van hoop
Teks: Romeine 5:1-11
Hoop is nie wensdenkery nie of ‘n vae aspirasie nie. Dit is nie om te wil hê dinge moet goed uitwerk nie, terwyl jy onseker bly of dit wel gaan gebeur nie. Hoop is die absolute sekerheid wat ons het dat God goed is en dat sy beloftes waar is. Hoop is eintlik verpersoonlik in Jesus Homself, Hy is ons hoop – “Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid” (Kol. 1:27).
Volgens Romeine 5:1-5 is die lewe van die vrygespreektes ‘n mengsel van vrede, hoop, swaarkry en liefde. Almal wat vrygespreek is het vrede met God, het toegang tot God en het hoop in God – dit is ‘n pakket ooreenkoms – dit is alles aan mekaar verbind. Hierdie verse wys vir ons hoe God Drie-Enig betrokke is in ons lewens. Jy sal opmerk dat in hierdie verse praat Paulus van ons verlede, hede, en toekoms.
Paulus wil hê ons moet verstaan dat die radikale liefde wat Jesus vir ons gedemonstreer het in die verlede, hoe Jesus vir ons gesterf en opgestaan het, ook ons hede radikaal beïnvloed. God wil hê dat jou verlede moet beïnvloed word deur Sy verlede, veral sy verlossingswerk in die verlede.
Hoop is altyd ‘n term wat verbind word met die toekoms. Aan watter toekoms is dit verbind in hierdie vers? ‘n Toekoms wat gedompel is in die “heerlikheid van God”. Wat beteken dit? Wel deur wat Jesus vir ons gedoen het, is hierdie heerlikheid van God, nou ons hoop.
Hoop is ‘n huidige hulp in die lig van toekomstige gelukkigheid. In Jesus is ons toekoms onlosmaaklik verbind aan Jesus se verlede. Die toekomstige werk van Jesus is nie nuwe werk nie. Dit is eenvoudig die volle uitwerking van die verlossing wat Hy alreeds vir ons bewerkstellig het deur sy dood en opstanding.
Let op hoe in hierdie lys (v.3-5), dat swaarkry lei tot hoop – nie tot vrees nie, nie tot angs of paniek nie. Swaarkry produseer volharding en volharding produseer egtheid van geloof en dit produseer hoop. Almal wil hoop hê, niemand wil swaarkry ervaar nie – en tog is dit hoe ons daar uitkom. Ons swaarkry maak ons sterker en meer gelowig. Swaarkry maak dat ons gefokus is. Dit help ons om te fokus op wat werklik belangrik is. Volharding lei tot egtheid van geloof, of soos die Grieks te vir ons sê, dit lei tot die egtheid van ons karakter. Karakter is ‘n woord wat beteken “om te toets”. Dit is ‘n kwaliteit van vertroue wat deur ervaring kom. Dit kom van om te volg en te doen, ten spyte van alles wat aangaan. En dit lei om te groei in jou hoop.
Hoop laat ons altyd verheug – vreugde is die termometer wat ons hoop wys. As jy in blydskap leef, dan moet jy hoop hê. As jy altyd bedroef is, beteken dit dat jy het êrens jou hoop verloor het. Die resultaat is dat wanneer ons swaarkry, ontdek ons waarin ons regtig glo, vertrou en hoop – onsself of in God? Swaarkry help ons om te fokus, dit lei ons terug tot ons ware bron van hoop, en in die proses verander dit ons. Dit word heiligmaking genoem – die proses waarby God ons meer en meer vorm in Jesus se beeld.
Ons het bewyse van hoop: God se liefde is nou in ons harte, bewys deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens. Hierdie hoop sal nie beskaam /teleurstel nie, want dit is geseël met die Heilige Gees as ‘n Gees van liefde.
Die bewyse van jou egtheid van geloof is die grond van jou hoop. God werk in jou. Hy vorm jou om meer soos Jesus te word. Hy vat alle daagse swaarkry, wat ons almal ervaar, en Hy verander dit vir die goeie vir jou. In werklikheid, God is besig om jou voor te berei vir die hemel – vers 2 sê mos “ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God”.
Ons het hoop in die hede, vir toekomstige genade, gebaseer op God se getrouheid in die verlede. God se liefde is die vervulling van hoop.
Gebed: Mag God, die bron van hoop julle deur geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees, Amen.
Vir volledige videoboodskap, klik hier.
Vrae vir nadenke (persoonlik of in groepe)
- Paulus het die beginsel van hoop goed verstaan? Lees Romeine 15:13; Kolossense 1:27; Titus 1:1-2, wat val jou op as jy die gedeeltes lees, rakende Paulus se verstaan van hoop?
- Die Bybelse woorde (yakhal, qavah en elpis) vir hoop het te doen met wag en verwagting. Hoe sal jy hoop (Bybelse hoop) aan iemand verduidelik?
- Gelowiges se hoop kyk terug na die opgestane Jesus om sodoende vorentoe te kan kyk. Hoe help hierdie stelling jou om jou geloof hoopvol uit te leef?
- Dink jy hoop is ‘n wesenlike realiteit vir Christen gelowiges? Hoekom sê jy so, of hoekom nie?
- Lees Hebreërs 6:18-19. Wat leer jy uit hierdie verse oor hoop?
- Romeine 5:3-5 praat oor die ‘proses’ van hoop (swaarkry wat lei tot hoop), wat leer dit vir jou oor die hoop wat ons in God plaas?
- Romeine 5:5 sê: “en die hoop beskaam nie”, wat word hiermee bedoel? Wat is die rede waarom hoop nie beskaam of teleurstel nie (kyk na die res van vers 5)?
- Lees 1 Petrus 3:15. Wat is die opdrag wat Petrus vir ons hier gee? Leef jy hierdie opdrag uit? Wat keer jou om nie daagliks hierdie opdrag uit te leef nie? Hoe help vandag se boodskap jou om jou geloof en hoop op ‘n daaglikse basis uit te leef?
- Psalm 25:3 sê: “Niemand wat sy verwagting/hoop in U (God) stel, sal beskaam word nie” (vry vertaal). Wat leer dit vir jou oor God?
- Met wie gaan jy deel wat jy hierdie week geleer het oor God en die belofte van hoop?
- Is daar enige behoeftes wat jy het of mense vir wie jy graag voor wil bid?
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, tans in die hospitaal is, die wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
- Hugo Hamilton
- Sheila Kellerman
- Marietjie Craig
- Fielie van Niekerk
- Tom Farmer
- Neels van den Berg
- Frikkie Crotz
- Lidmate wat tans Covid het en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.
Griefshare Groepsessies
So baie mense het die afgelope jaar geliefdes aan die dood afgestaan. Hierdie nuwe kursus kan jou help op jou pad na genesing.
Klik hier om na ‘n video te kyk waarin Dr Jean Strydom meer oor die aard van die kursus vertel.
Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit