11 April 2018


Boodskap vir die week

Teks: Genesis 16:13

Tema: Die God wat my sien

Hoeveel keer hoor ons nie mense sê “ek is maar net ‘n nommer” nie? Mens voel baie keer in ‘n groot firma dat jy maar net ‘n nommer is. Kinders voel baie keer by ‘n groot skool dat hulle maar net ‘n nommer is. Wanneer ons in die tou staan by bv. Binnelandse sake of die Lisensiekantore, dan ervaar jy fisies jy is net ‘n nommer.

Almal van ons het die behoefte om raak gesien te word. Ja, nie noodwendig deur hordes mense nie, maar ons almal wil tog graag hê dat mense my moet raak sien. Dat mense van my moet notisie neem.

Veral as dit by naby-verhoudings kom, dan raak dit vir ons baie belangrik dat mense ons moet raaksien en notisie moet neem. Die lewe raak baie eensaam as mens beleef dat jou vriende of familie nie meer notisie van jou neem nie; hulle jou nie verstaan en aanvaar nie.
Van die moeilikste goed om te hanteer is wanneer mens ervaar dat jou gesin of jou huweliksmaat nie meer jou raaksien of van jou notisie neem nie.

Hagar het so gevoel toe sy swanger die woestyn in is. Sy het waarskynlik gevoel dat niemand haar raaksien of werklik van haar notisie neem nie. Sy het gevoel sy is maar net nog ‘n slaaf, nog ‘n nommer. Sy waarskynlik moedeloos, kwaad, te nagekom, misbruik gevoel. Sy het waarskynlik beleef dat niemand haar verstaan nie en niemand regtig notisie neem van haar omstandighede nie.

Maar God sien haar raak. Vir Hom is geen mens maar net nog ‘n mens of nommer nie. Hy verstaan presies hoe Hagar voel en wat sy beleef. God sien jou ook raak. So verstaan Hy ook presies wat jy ervaar en watter emosies jy mee worstel. Net soos Hy deur die engel vir Hagar kom moed gee en perspektief bring op haar omstandighede, kom doen Hy dieselfde vir ons ook. Ja, God kom verander nie noodwendig ons omstandighede nie, maar Hy gee vir ons die moed, krag en perspektief om te kan aangaan om Sy wil uit te leef.

Gebed
Dankie Here dat U die God is wat my ook raak sien. Dankie dat U my verstaan al verstaan ek soms nie eers my eie emosies nie. Help my om altyd te onthou date k vir U belangrik is en dat U ook met my lewe ‘n plan het.
Amen

 

Jeugbediening

Kinder & Kleuterkerk

Die Kinder- en Kleuterkerk se deure staan weer Sondag oop om ons Ligdraertjies te ontvang.

Die tema van hierdie kwartaal is: EK GLO…. Ons gaan kyk na WAT ons glo en HOEKOM ons dit kan glo.

 

 

 

 

InVia

WAARSKUWING!!!

Vir die Tieners. So, Bybelskool het net heeltemal te veel soos… skool geklink. Ons het nuut gedink en besef dat inVia ‘n beter naam is.

Ons as tieners is op pad saam met God. Onthou, Invia is aan die tieners, van die tieners. Ons dink natuurlik aan Psalm 119:105 wat sê: “U Woord is die lamp wat my die weg wys.” Tieners, kom kuier lekker saam op Woensdae aande 18:00 tot 19:30 by die lapa. Moet dit nie misloop nie.

 

Juventas

Juventas is terug hierdie kwartaal met ‘n baie lekker program. So ons het saam met die laerskool kinders begin by Genesis en op plekkies stil gestaan.

Ons gaan nou voort met die Ou Testament dat ons werklik kan leer wat in die Bybel staan.

Ouers, julle kinders word uitgenooi om saam deel te kan hê in die storie van die Ou Testament. Stuur julle laerskool kinders op Donderdae, 18:30 – 20:00 na die lapa toe by die kerk.

 

Groete & seënwense,

Jean, Louis en Johan


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.