Hierdie week se boodskap

 

 

Tema: Hou styf vas en moenie wegdryf nie.

Teks: Hebreërs 2:1-4

 

Boodskap:   Dink so bietjie terug aan die laaste keer wat jy by die see was. 

By die meeste swemstrande is daar altyd vlae wat aandui waar in die see jy veilig kan swem. Maar het jy al agtergekom dat dit soms nogals moeilik is om tussen die vlae te bly. Veral by van die strande in Natal, trek die strome jou ongemerk na die eenkant toe. En as jy weer sien, dan is jy verby een van die vlae en uit die veilige gebied. Dan moet jy eers weer met moeite oor beweeg, half teen die stroom in.

Gelukkig is daar lewensredders op die strand, wat gewoonlik die see by daardie gedeelte van die strand goed ken, en gereeld waarsku as mense te diep inbeweeg of verby die vlae beweeg. Hulle is ook daar om te help wanneer mense in die moeilikheid beland.

Vandag se gedeelt kom waarsku ons dat dieselfde maklik met mense se geloofslewe gebeur. Ongemerk dryf ons al verder en verder van God af weg. Dis nie iets wat noodwendig skielik gebeur of weens ‘n spesifieke gebeurtenis nie.

Die Griekse woord wat hier vertaal is met “kragtiger vasgryp” beteken ook om “noukeurig aandag” te gee. Die skrywer kom sê dus hier dat ons noukeurig moet aandag gee en met krag moet vashou aan die evangelie boodskap. Ons moet fokus op Jesus Christus en sy Verlossingswerk.

Wegdryf beteken iets gebeur wanneer jy nie waaksaam is nie en nie oplet nie. Dit is iets wat ongemerk gebeur en eers later besef word.

Daar kan natuurlik verskillende oorsake wees oor waarom ons ongemerk wegdryf:

1. Dit kan wees weens ons lewens wat heeltemal te besig is.
2. Dit kan wees dat ons toelaat dat tegnologie en sosiale media teveel van ons tyd opneem.
3. Miskien omrede ons te gefokus is op aardse, verganklike dinge.
4. Of dalk omdat alles te veel om myself draai en my behoeftes.
5. Dalk is die grootste gevaar in vandag se tyd dat ons maklik in ‘n geestelike gemaksone verval.

Ons leef so asof ons van God verwag om in te pas by ons programme en wat vir ons gemaklik is terwyl ons eintlik ons lewens aan die hand van God se wil moet in rig.

Hierdie gedeelte kom roep ons op om weer mooi te besin oor ons geestelike lewe. Hoe naby is ek aan God? Het ek nie dalk die afgelope tyd onbewustelik begin wegdryf van God nie?

Ons moet leer om in die lewe ag te slaan op die geestelike lewensredders wat God daar gestel het om ons te waarsku as ons ongemerk in gevaar gebiede in dryf wat ons lewe betref.

Kom ons wees ook mekaar se geestelike lewensredders en doen moeite om mekaar in liefde te waarsku wanneer ons agterkom iemand het dalk begin wegdryf van God af.

Maar hoe wonderlik is God se liefde en genade nie. Hy staan altyd met ope arms en wag om elkeen weer terug te verwelkom wat weggedryf het van Hom.

Gebed: Dankie Hemelse Vader vir al ‘n liefde en genade. Dankie Here Jesus Christus vir die verlossings- en versoeningswerk wat U gedoen het. Heilige Gees help my om betyds te besef wanneer ek van die Vader af begin wegdryf en help my om stewig aan die Vader geanker te wees.

Opname van die preek is hier beskikbaar

 

Knie-aksie:

Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.

  • Leon Steenkamp
  • Hugo Hamilton
  • Marie Pretorius

 

 

NG Suid – Maart nuusbrief

Goeie dag liewe lidmaat. Ons vertrou dat dit met jou goed gaan en jy te midde van omstandighede die genade van die Here ervaar. Ons is so dankbaar om nou reeds op Vlak 1 van inperking te wees, al wou ons gehad het dat daar toestemming verleen is vir meer mense om eredienste by te woon. Wel, ons het besluit om die beste van die uitdagende omstandighede te maak.

Ons is tans in Lydenstyd wat strek vanaf 28 Februarie tot 4 April met Opstandingsondag. Tydens Lydenstyd is ons besig met die reeks uit die boek Hebreërs (Die voortreflikheid van Jesus) en daar is ‘n Bybelstudiehandleiding wat by die Kerkkantoor beskikbaar is of dit kan van die webblad (www.ngnelspruitsuid.co.za) afgelaai word. Dit is ook Sondae beskikbaar by die deur. Volg gerus die reeks saam met ons. Dit is ons gebed dat jy dit verreikend sal vind.

Ons gee graag die nuwe reëlings vir ons Eredienstye en Jeugaktiwiteite deur soos vir Sondae. Let asseblief daarop dat vanweë langnaweke en vakansietye dit sal verskil. Volg asseblief die datums hieronder en onthou om asseblief te bespreek by die kerkkantoor (013 7441925).

U sal sien dat ons jeugaktiwiteite vir die interim verskuif na die 10:00 tydsgleuf. Ouers kan dus die 10:00 diens bywoon terwyl die kinders bedien word in hul onderskeie groepe.

So. 14 Maart:
Eredienstye: 08:30 & 10:00
10:00-11:00 = Kleuterkerk (Lapa)/ Kinderkerk (Saal)/ Jeugdiens (Koinonia)

So. 21 Maart
Slegs 08:30 diens agv die langnaweek
Geen kategese

So. 28 Maart
Eredienstye: 08:30 & 10:00
10:00-11:00 = Kleuterkerk (Lapa)/ Kinderkerk (Saal)/ Jeugdiens (Koinonia)

Do. 1 April
Stilnagmaal geleentheid vanaf 18:00. Meer inligting volg nader aan die tyd

Vr. 2 April (Goeie Vrydag en Nagmaal)
08:30 & 10:00

So 4 April
Slegs 08:30 diens agv die langnaweek
Geen kategese

So. 11 April
Eredienstye: 08:30 & 10:00
10:00-11:00 = Kleuterkerk (Lapa)/ Kinderkerk (Saal)/ Jeugdiens (Koinonia)

So. 18 April
Eredienstye: 08:30 & 10:00
10:00-11:00 = Kleuterkerk (Lapa)/ Kinderkerk (Saal)/ Jeugdiens (Koinonia)

So. 25 April
Slegs 08:30 diens agv die Skoolvakansie
Geen kategese

Ons wil ook dankie sê aan elkeen wat maandeliks getrou hulle bydrae inbetaal asook vir elkeen wat bygedra het tot ons geloofsoffer. Ons bedrag was R397 000 wat ingesamel is. Ons prys die Here daarvoor.

Almal wonder seker oor die Vleisfees wat nooit plaasgevind het nie. Ons sal binne die nuwe beperkinge wel poog om Vrydag 25 Junie ‘n Mini-Vleisfees te hou waartydens jy weer jou gewilde snitte kan koop teen bekostigbare pryse. Ons sal ook ander stalletjies daardie dag hê.

Op Vrydag 26 Maart word ‘n spesiale Hamburger verkoping deur die 3 leraars en hul gesinne gehou. Jy kan bestellings plaas by die kerkkantoor en daar is 2 tydgleuwe waartydens jy jou bestelling kan afhaal, 11:30-14:00 & 16:00-18:00. Dit is R50 vir ‘n Hamburger en Koeldrank. Kom ondersteun hierdie projek! Neem sommer bestellings by jou werk vir daardie dag. Bestellings word by die kerkkantoor geplaas (0137441925). Die afsnydatum vir bestellings is Wo. 24 Maart @12:00. Vir navrae kontak Dr. Jean by 083 572 4886.

Dr. Jean begin ook met ‘n nuwe Bybelstudie geleentheid op Woensdae vanaf 18:00 (begin vanaf 17 Maart) in die Koinonia-sentrum. Almal is welkom. Kom verdiep jouself in die Woord en belê in jou geestelike lewe. Navra: Dr. Jean 083 572 4886

Onthou jy kan jou kind neem na die Phos Bybelskool op Woensdae vanaf 18:00-20:00 in die Lapa. Dit is vir Gr. 8-12. Enige navrae kontak vir Ds. Gerrit 071 859 5175.

Mag die volgende aantal weke met al sy uitdagings vir jou ‘n geseënde tyd wees en onthou om voortdurend te bid vir die gemeente.

Seën vir jou
Leraars

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit