1 November 2017


 

Die jaar snel ten einde, vandag is al die 1e November!  Hoe dit ook al sy, ons vertrou dat dit met jou goed gaan.  Hiermee ons Midweek nuusbrief om jou op hoogte te hou van gebeure in ons gemeente.

 

Boodskap vir die week

Tema: Rentmeesterskap van jou mense verhoudinge

Teks: Verskeie

Boodskap: Ons leer God in die Bybel ken as ‘n God van verhoudinge. Reeds van die begin af was verhoudinge vir Hom belangrik. Verhoudinge in ons lewe is ook belangrik. As dit goed gaan in ons verhoudinge dan is alles maanskyn en rose, maar die dag as dinge verkeerd loop dan voel dit asof dit die einde van die wêreld is.

Jesus gee aan ons die opdrag om mekaar lief te hê (Joh. 15:9, 12, 17). Omdat Hy verwag dat ons mekaar moet liefhê gee Hy ook aan ons die gawe van die liefde (1 Kor. 13). Hy verwag dat liefde deel van ons verhoudinge moet wees. In Ef. 5:21-33 praat Paulus oor die verhouding tussen man en vrou. Alhoewel liefde die basis daarvan vorm gee hy spesifieke raad. Man en vrou moet uit eerbied vir Christus onderdanig wees aan mekaar. Man en vrou moet mekaar dus oplug in die lewe, mekaar laat goed voel. Omdat alles aan die Here behoort (Ps. 24:1-2), moet man en vrou onthou dat hulle maat aan die Here behoort. Eendag moet ons rekenskap gee oor ons rentmeesterskap binne ons verhoudinge.

In Ef. 4:1-2 en Fil. 2:1-4 lees ons meer oor die verhoudinge binne die Gemeente. Eensgesindheid is ‘n prioriteit en sekere eienskappe is nodig om dit te versterk. Paulus noem aspekte soos om beskeie te wees, vriendelik te wees, geduldig, mekaar in liefde te verdra en om in vrede met mekaar te leef. Paulus noem spesifiek dat ons nie selfsugtig moet wees nie, maar nederig moet lewe en nie aan jou eie belange dink nie.

Gebed: Here leer my om ‘n goeie rentmeester van my mense verhoudinge te wees. Amen

* Die volledige preek van Sondag is beskikbaar. Kontak ds. Louis vir ‘n afskrif.

 

Rentmeesterskap: My Mense-Verhoudinge

  1. Hoekom dink jy is verhoudinge vir God so belangrik?
  2. Watter verskil maak gesonde verhoudinge in ‘n mens se lewe?
  3. Wat dink jy is die belangrikste bestanddeel van ‘n gesonde verhouding met jou medemens?
  4. Stelling: Indien jou verhouding met God nie gesond is nie sal jou ander verhoudinge ook tot ‘n groot mate ongesond wees. Bespreek.
  5. Watter “goeie” raad of advies het jy al by ander gehoor in terme van verhoudinge?
  6. Kyk na die volgende teksgedeeltes en stel vas wat vir jou in elke gedeelte uitstaan rakende verhoudinge?
    a. Fil. 2:1-8
    b. Ef. 5:21-33
    c. 1 Kor. 13
    d. Kol 3:18-4:1
  7. Laat die feit dat jy eendag rekenskap voor God moet gee oor jou verhoudinge jou anders optree?
  8. Tot watter mate kom ons as rentmeesters nie altyd ons plig na t.o.v. verhoudings nie?
  9. Wat kan jy persoonlik doen om jou mense-verhoudinge meer in lyn te bring met God se wil?

 

Here‚ laat ons die geur van u lieflike teenwoordigheid
versprei oral waar ons gaan.
Versadig ons gees met u liefde en lig;
deurdring ons lewe so volkome met die glans van u lig
dat dié wat met ons in aanmerking kom‚
bewus mag word van u warmte en heil.
Laat hulle wat in die skadu’s lewe‚ na ons kyk
en net vir Jesus sien!
Bly so naby ons dat ons lewe soos U s’n sal begin skyn …
Ons vra nie dat die lig op óns val nie‚ liewe Here‚
maar dat dit déúr ons op ander sal skyn
AMEN
(John H. Newman)

 

Eredienste

Sondag 5 November 2017

  • 08:30 – Oggenddiens.   Tema: Rentmeesterskap van my gawes
  • 18:00 – Koinonia byeenkoms

 

Eerskomende Vrydag is nie net sommer ‘n Vrydag nie, dis…

FEES-VRYDAG!

Goed, kom ons kyk wat gebeur alles op hierdie Fees-Vrydag…

Vleisverkope

Vleisverkope sal vanaf 17:00 begin. Skaap-, vark- en beesvleis asook hoender sal te koop wees teen gewaarborg die laagste pryse in die stad. Kom koop jou vleis vir die Desembervakansie. Beperkte voorraad – hierdie is ’n mini fees. Kom dus betyds om teleurstelling te voorkom. Kontak Jean Strydom (083 572 4886).

 

Maxi-Kuierfees

Ons gaan lekker groot tente en springkastele opslaan, vure aansteek, tafels dek, speletjies uitpak, en koffiemasjiene aansit. Alles reg om heerlik te kuier.

Spitbraai @ R60

Die ete sluit die volgende in: ’n ruim porsie vleis, bykosse en poeding. Jy hoef geen eetgerei te bring nie – alles word voorsien. Kom sit net aan by een van ons keurig gedekte tafels en kuier saam met ons.

Kaartjies kan op een van drie wyses vooraf gekoop word.

  • Gebruik die Zapper-Toep op jou foon en skandeer die kode.
  • Betaal per EFT met verwysing “SPITBRAAI” – stuur bewys van betaling aan die kerkkantoor.
  • Koop kontant Sondae na die erediens of weeksoggende by die kerkkantoor.

Alle kaartjies moet met bewys van betaling by die kerkkantoor of Sondae na kerk afgehaal word. Sonder jou geldige kaartjie, kan ons nie jou ete bedien nie. Koop asb. jul kaartjies ASAP teen 2 November 2017 ter wille van ons getalle berekeninge.

Jonk van gees @ SUID

Vir die kinders en die kleiner eters sal daar “Boeredogs” @ R20 beskikbaar wees. Stokbroodbraai en speletjies vir alle ouderdomme. Kontak Louis Pienaar (082 878 1743) of Johan Koen (082 393 2944) vir meer besonderhede.

Koffie @ SUID

Soos altyd sal daar koffie, tee en iets koel beskikbaar wees met ’n ekstra soetdingetjie by.

Alles is gratis , maar donasies is welkom. Kontak Prins Ferreira (081 504 0653) as jy iets wil bydra of help.

Tafel van Oorvloed

Die Tafel van Oorvloed is nuut en anders as wat ons dit nog ooit gedoen het. Ons wil die jaar niemand vra om enige iets te maak nie. Ons vra net dat elke gemeentelid kyk na sy oorvloed en besluit waarmee hy/sy iemand anders kan seën. Hierdie items word dan vooraf of op die oggend van 3 November na die kerk gebring. Geen pryse sal op enige item aangebring word nie. M.a.w. alles op hierdie tafel is eintlik gratis en kom uit die harte van ons gemeentelede. Daar sal slegs ’n houer vir VRYWILLIGE donasies wees. Ons gee uit ons oorvloed.

Items wat u kan oorweeg om te skenk:

  • Gebak soos koek, beskuit, terte, lekkergoed vir die kinders
  • Handwerk, houtwerk, kuns of geskenke of speelgoed
  • Goeie, bruikbare (!!!) witolifante
  • Mooi serpe of krale of dasse wat jy nie meer dra nie
  • Enige iets wat die Here op jou hart lê!

Kontak Fransien Taljaard 084 602 1338 vir meer inligting.

 

Die groeiende hoeveelheid van senior mense het finansiële ondersteuning van ʼn aard nodig. Ons kan nie met alles help nie maar ons wil met dié geskenkpakkie ʼn simbool van Jesus-liefde aan mense oordra. Daaraan het almal ʼn behoefte!

Met projek 500 wil ons ten minste 500 geskenkpakkies insamel en aan senior mense in ons gemeenskap uitdeel.

Jy kan letterlik enige iets in die pakkie sit. Wenke: Toiletware, lyfroom, handeroom, tandepasta (tandeborsel ook welkom), waslappie, koekies, sagte lekkertjies, ens. (Verkieslik nie sjokolade, biltong & droëwors nie)

Hieronder is ‘n skakel waar jy ʼn kerskaartjie kan aflaai wat jy kan versier en ʼn groete boodskap op skryf. Bring die pakkies na die kerkkantoor/kerk voor of op Sondag 3 Desember

Klik hier om die kerskaartjie af te laai.

 

Huisouer vir Huis Betlehem

Huis Betlehem in Nelspruit is weer in finansieel ‘n posisie om ‘n Huisouer aan te stel.  Indien jy belangstel, of dalk van iemand weet wat mag belangstel, kontak Mariaan Lourens, (Administratiewe Bestuurder, Huis Betlehem Trust), selfoon: 079 490 5095, E-posadres: betlehem@vodamail.co.za.

 

Geloofsoffer

Geloofsofferbydraes het amptelik gister, 31 Oktober gesluit. Die bedrag wat tot gisteroggend 10:00 ontvang is, staan op R625,000!

 

Aan elkeen wat so mildelik bygedra het, sê ons baie dankie!

Tot volgende week, groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.