Hierdie week se boodskap
Tema: Dienaars, staan agter in die ry – so ‘wen’ jy!
Skriflesing uit Markus 9:33-35; 10:35-45
“Wie van ons is die belangrikste?” Dit is waaroor die onderlinge gesprek van Jesus se dissipels gaan. Kan jy dit glo? Regtig? Hulle loop saam met Jesus. Hulle is in die teenwoordigheid van die Seun van God – en hulle wonder wie van hulle gaan die balkie kry ‘Top-dissipel’.
Jesus se antwoord land soos yskoue water in die dissipels se gesigte. “Eerste is van nou af laaste”. Prōtos is eschatos, soos Markus dit in die Grieks uitspel. En wie laaste is, moet boonop almal se dienaar wees, almal se diakonos. So lyk ‘n dissipel! Dit is glad nie romanties nie. Vra maar vir enige iemand wat agter staan en wat laaste kom. Dit is nie lekker nie. Laaste is presies wat dit is. Laaste. Heel agter. Verloor. En asof laaste nie reeds erg genoeg is nie, kies Jesus boonop ‘n nuwe eretitel en posbeskrywing vir sy volgelinge – diakonos. Dienskneg, bediende. Nie net ‘n dienskneg nie, maar ‘n bediende vir almal en van almal. So lyk ‘n dissipel en ‘n wenner in Jesus se oë.
Jesus sê dat geloof juis oor dienslewering gaan. Gelowiges moet hulle blink krone en versierde trone kom inruil vir werksklere. Die rede: Ons dien ‘n Heiland wat self nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien.
Jesus se titel vir sy volgelinge in ons tyd is egter steeds wat dit nog altyd was: diakonos. Dienaars. Bediendes. Dit is tragies dat hierdie eretitel in die kerk heeltemal verlore geraak het. Vir Jesus is die belangrikste dinge om agter in die ry te gaan inval en vir ander mense iets te begin beteken. Hoe lyk dinge in jou lewe? Is jy die deurwagter by die koninkryk wat vir ander mense die beste plekke aanwys, of sit jy lekker gemaklik op die voorste gestoeltes terwyl jy wag dat ander jou moet kom bedien?
Niemand wil uit vrye keuse ‘n bediende wees nie – behalwe Jesus. En elkeen wat sy hart in hulle binneste voel klop. Om ander mense se bediende te wees, is om hulle op Jesus se manier lief te hê. Dit is om sonder enige voorwaardes en voorskrifte daar te wees vir hulle.
“Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees.” – Markus 10:43
Megas, of groot, is sinoniem met diakonos, of dienskneg, soos die Grieks hier lui. Asof hierdie rol nie genoeg is nie, leer Jesus sy dissipels nog ‘n nuwe rol aan: “Elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees.” (10:44). Prōtos, of eerste, is nou sinoniem met ‘n doulos of slaaf. Nee, nie net ‘n dienaar vir ander nie. Dit is nie genoeg nie. Nou gaan dit oor slaaf-wees, oor niks-wees.
Nou word jy almal se brug oor wie hulle kan loop. Voltyds aan diens en in diens. Dit is slawe se werk. Slawe is altyd aan die hardloop en altyd aan die help. So klink die nuwe rolle vir Jesus se mense. Liefde vir God word altyd gesien, gehoor, gevoel, gedoen.
Gebed: Here, Jesus, mag ons getrou en gehoorsaam wees aan hierdie nuwe eretitels van dienaar en slaaf wees. Mag ons U voorbeeld volg, en mekaar dien met U liefde. Amen.
Vir verdere studie:
- Lees Markus 9:33-35; 10:35-45. Onderstreep al die opdragte in die teks. Wat vra hierdie opdragte van jou?
- Wat staan vir jou uit in hierdie teksgedeeltes?
- Wat hoor of verstaan jy wanneer jy die woord dienaar, dienskneg of bediende hoor? Waarom is dit ‘n beskrywing wat Jesus gebruik vir sy dissipels?
- In Markus 8-10 gee Jesus vier nuwe eretitels of ‘n nuwe identiteit aan sy dissipels, Hy sê ons is kruisdraers, dienaars en slawe, wat is die vierde beskrywing wat Jesus vir ons gee? Lees weer Markus 8:36.
- Hierdie nuwe eretitels, identiteit, en benamings wat Jesus vir sy volgelinge gee, was nie juis positiewe beskrywings in Jesus se tyd nie, ook nie in ons tyd nie. Waarom ons dit dan noem en verwag om dit te doen?
- Lees Fil. 2:5-11. Wat leer ons oor Jesus vanuit hierdie teksgedeelte? Wat sê dit vir ons oor onsself, veral as ons dink aan vandag se teksgedeeltes?
- Hoe sou jy hierdie teksgedeeltes aan iemand anders verduidelik in jou eie woorde?
- Met wie gaan jy deel wat jy vandag ontdek het oor dissipel wees, oor dienaar/bediende en slaaf wees vir ander en aan ander?
Vir volledige videoboodskap, klik hier https://www.youtube.com/watch?v=Cx2H2LSL9Uw
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:
Bid asb ook vir lidmate wat siek is.
Program vir die week
Werner en Cindy Buys (Cindy is ’n kategeet) Cindy en haar man, Werner Buys, is vanjaar 15 jaar kort getroud. Hulle het twee kinders naamlik AB, 12 jaar, en Luka, 9 jaar. Sy en Werner het elk een broer wat altwee in Pretoria bly. Werner se pa en Cindy se ma lewe nog. Buiten hulle derde dierebaba, Patat, hul varkhond, het hulle ook visse, duiwe en twee, wel mag dit nie regtig noem nie, op die erf. Hul stokperdjies is om saam as gesin te gaan bergfiets ry. Hulle is mal oor kampeer asook die buitelewe. Hulle kan nie meer vir die somer wag nie! Hulle was bevoorreg genoeg om, as gevolg van werk, in April 2018 vanaf Pretoria na die pragtige Laeveld te trek. Cindy en haar man werk in dieselfde maatskappy naamlik Laeveld Food Ingredients. Hy is die algemene bestuurder en sy die administrasie-bestuurder. Hulle is in die speserybedryf. Hulle het alle speserybenodigdhede van huisgebruik tot vir biltong en wors, met ander woorde alle speserye en souse waaraan ‘n mens kan dink. Hulle hou dus alle speserye aan of kan enige spesery-versoek in die hande kry. Tydens hulle skuif na die Laeveld, terwyl hulle besig was om hul maatskappy uit te bou en te laat groei, tref Covid, slegs twee jaar vandat hulle die maatskappy begin het. Meeste van hulle kliënte is gedwing om hul besighede te sluit aangesien baie in die restaurantbedryf is. Cindy getuig: “Hierdie was ’n baie uitdagende tyd vir ons, maar gelukkig vir ons geloof in ons Hemelse Vader, Hy wat ons gedurende dié tyd elke dag in Sy hande gedra het. Hy dra ons steeds: Danksy baie gebede en ’n ongelooflike selgroep, is ons steeds hier en gaan dit elke dag net beter.” “Soos hierbo genoem, het ons by ’n selgroep aangesluit wat sommer vinnig nie net ’n selgroep was nie, maar ’n vriendekring. Ons is so bevoorreg om so ‘n klomp ongelooflike mense in ons lewens te mag hê.” “Ons is ook geseën deurdat ons Maart vanjaar ons eie eiendom kon koop. Ons bid en besef elke dag watter groot voorreg dit is om ons eie dak oor ons kop te kan besit. Ons dank ons Hemelse Vader vir al Sy genadegawes wat ons elke dag, onverdiend, uit Sy hand ontvang.” |
Mag elkeen God se Liefde elke dag ervaar.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit
Mag elkeen God se Liefde elke dag ervaar.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit