Hierdie week se boodskap
Wat het jy om vir God te gee?
Teks: Johannes 6: 1-15
Boodskap:
Ons weet nie veel van die seuntjie nie. Ons weet nie wie hy was nie, hoe oud hy was nie of waarvandaan hy presies was nie, maar wat ons wel weet, is dat hy sy middagete vir Jesus gegee het.
Jesus kon seker self brood gemaak het, ek meen God het manna uit die hemel gegee vir die volk in die woestyn, nie waar nie. Maar dit is nie altyd hoe God werk nie. God gebruik gewoonlik iets wat reeds teenwoordig is, ‘n stok/kierie (Moses en Elisa), bietjie olie, bietjie meel, ‘n rots (Moses), een van vyf klippies (Dawid), ‘n kakebeen (Simson), spoeg, modder, sout – iets wat ons byderhand het en Hy gebruik dit om te voorsien aan ons nood en behoefte.
Jesus het nie die seuntjie se middagete nodig gehad om die wonderteken te verrig nie. Hy kon die groot skare mense gevoed het sonder dit. Tog, laat God ons deel neem aan sy wonderwerke. Hierdie seuntjie het nie geweet dat Jesus ‘n wonderwerk gaan verrig met sy middagete nie. Hy het sy middagete vir Jesus gegee en heel moontlik gedink dit was vir Jesus Homself.
Die punt is, die seuntjie het alles wat hy gehad het, vir Jesus gegee. Wat van jou? Wat het jy om vir Jesus te gee? Al wat ons het om te gee is ons lewe.
Die doel van hierdie verhaal is om vir ons te wys wat kan gebeur wanneer ons onsself sit in die hande van God. Jesus het net verwag dat die seun die kos in sy hande moes sit en dan die res los vir Hom om te doen. Hoekom? Wel, want God se werk, gedoen op God se manier, skiet nooit te kort aan God se voorsiening nie.
Toe die dissipels begin om Jesus te help om die skare van 5000 te voed, het elke dissipel dit gedoen met amper ʼn leë mandjie. Dit is hoe dit begin het – die vyf brode en twee visse was opgedeel tussen die twaalf dissipels. So in elke dissipel se mandjie was daar 1/6 van ʼn vis en minder as die helfte van een garsbrood.
Dit was net soos wat hulle aanhou die brood en vis bedien het dat hulle gesien het dit net meer en meer word. Eers aan die einde toe almal versadig was, het die dissipels besef hulle elkeen het ʼn vol mandjie van kos wat oorgebly het (sien v.13).
Ons wil ons bediening aan ander mense geestelik vol begin en leeg eindig, maar dit is nie die les van die vermeerdering van die kos nie. In plaas van om vol te begin en leeg/met niks te eindig nie, wil God hê ons moet leeg/met niks begin en vol eindig.
Deur vol te eindig, beteken meer as net om finansieel geseënd te wees – dit gaan oor dieper verhoudings, verhoogde geloof, ʼn nuwe perspektief op die lewe en vreugde soos wat jy sien jou lewe beteken iets in God se koninkryk. Moenie probleme wat buite jou beheer is, jou verhinder om ander mense te bedien nie. Moenie dat dit wat jy het hoe baie of hoe min ook al, jou verhinder om ander mense te bedien nie.
- 14 sê dat toe die mense die teken sien, besef hulle Jesus is die ware profeet en wou hulle Jesus tot koning maak. So die seuntjie met sy vis en brood het ‘n openbaarder van Jesus Christus geword. Dink net aan hoe baie ander mense tot geloof in Jesus kan kom, wanneer jy iets gee of iets doen in God se koninkryk? In v.15 wou die mense vir Jesus koning maak – mag die Here ons help om hierdie impak en effek op mense te hê!
Die seuntjie het sy middagete vir Jesus gegee en Jesus het ‘n skare van oor die 5000 mense gevoed. Jy het iets wat jy vir Jesus kan gee, dit mag dalk vir jou na iets klein lyk, maar God kan dit seën en bruikbaar maak vir duisende. Sal jy dit vir Jesus gee? Dit alles begin deur jou lewe in God se hande te sit.
Gebed: Here, ons dra hierdie derde kwartaal op aan U. Ons vra vir U, leiding, en krag om in die kwartaal volheid te leef vir U en saam met U. Mag ons gelowig, die bietjie wat ons het en die baie wat ons het in U hande plaas en saam met U werk daar waar U reeds besig is en soos ons dit doen mag U daardeur verheerlik word. Amen
Volledige videoboodskap: https://www.youtube.com/watch?v=TjW-KKRed3w
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:
Japie Olivier
Bid asb ook vir lidmate wat siek is.
Program vir die week
Lewenskets van Gert Conradie (leierdiaken)
Gert is in 1984 vanaf Pretoria na Nelspruit verplaas en is ook in 1984 met Marie getroud. Hy is een van drie broers en susters.
Hy is ‘n diereliefhebber en bied ‘n tuiste vir honde wat gesinne nie kan saam vat of verlore honde. Hy het twaalf honde en ‘n papegaai.
Gert se stokperdjie is motorsport, die stel en herstel van motors. Dié liefde het hy van sy Pa geërf. Hy het nasionale kleure in motorsport asook in diepsee-hengelary.
Sy vrou is in 2008 oorlede aan kanker. Hulle het geen kinders nie.
Hulle was eers lidmate by Westergloed en is daarna oor na NG Suid.
Gert aan die woord: “My lewensuitkyk is leef en laat leef.”
Mag elkeen God se Seën in elke dag van die nuwe kwartaal ervaar.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit