Hierdie week se boodskap
g van die Gees jou lewenswyse wees.
Teks: Galasiers 5:13-26
Boodskap:
So baie keer hoor ‘n mens dat iemand sal sê dat hulle nou eenmaal iemand is wat nie geduld ontvang het nie. Of dat hulle nou eenmaal iemand is wat onvriendelik is. Baie keer sê mense hulle is “so gemaak en so gelaat staan” en dat mense nou maar net moet aanvaar dat hulle so is. Hierdie is egter nie heeltemal waar nie.
Ja, uit ons eie uit gaan ons sukkel om dit reg te kry om meer vriendelik of geduldig en so meer te wees. Veral as jou persoonlikheidstipe neig tot die teenoorgestelde. Maar die wonderlike nuus is dat ons elkeen die vrug van die Gees ontvang het. Die vrug van die Gees is anders as die gawes van die Gees. Die Bybel is duidelik dat alle gelowiges gawes ontvang, maar almal kry nie dieselfde gawes nie. Party kry meer en ander kry dalk minder.
Met die vrug is dit egter anders. Almal ontvang die volledige vrug van die Gees. Dis een vrug met verskillende onder afdelings wat deur die liefde saam gebind word.Die vrug van die Gees is: Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Goedhartigheid, Getrouheid, Nederigheid, Selfbeheersing. Ek kan dus nie gaan en sê ek het nou eenmaal nie geduld of dalk selfbeheersing ontvang nie, want die Gees gee dit vir my.
Wanneer ek te kort skiet met van die aspekte van die vrug van die Gees, beteken dit ek moet aan daardie aspekte aandag gee en toe laat dat die Heilige Gees my help dat ek kan groei daarin. Ek moet beheer daarvan aan die Heilige Gees oorgee.
In die Griekse teks van Galasiers 5:13-26 word dit so mooi gestel. Daar staan letterlik dat ek saam met die Gees moet wandel en dat ek in Sy voetspore moet volg. Hoe meer ek toe laat dat die Heilige Gees die een is wat my lewe beheer, hoe meer ek in Sy voetspore volg, hoe beter gaan die vrug van die Gees in my lewe sigbaar word.
Gebed: Here, dankie dat U ook vir my die vrug van die Gees gegee het. Help my dat ek opnuut bewus sal word van watter aspekte ek nodig het om aan te moet werk. Help my dat ek elke dag saam met die Heilige Gees sal wandel deur hierdie lewe. Amen
Volledige videoboodskap: https://www.youtube.com/watch?v=_PmV-hBjrHM&t=44s
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:
Japie Olivier
Bid asb ook vir lidmate wat siek is.
Program vir die week
Lewenskets van Fanie en Ansie van Niekerk (Fanie is kerkraad: addisionele lid)
Fanie en Ansie het reeds in 1967 in die Laeveld aangekom. Dit is hulle tuiste vir die afgelope 55 jaar.
Fanie het by Hoërskool Rob Ferreira sy onderwysloopbaan begin en Ansie by Laerskool Witrivier.
Later het hy na Hoërskool Nelspruit geskuif. Die laaste agtien jaar was hy hoof van Hoërskool Bergvlam. Ansie het haar onderwysloopbaan as Lewensoriëntering-onderwyseres by Hoërskool Nelspruit afgesluit. Beide van hulle was bevoorreg om vir bykans 38 jaar by die opvoeding van kinders betrokke te wees en ‘n verskil in elkeen se lewe te probeer maak.
Hulle het saam in 2004 afgetree en is geseënd en gesond om reeds vir agtien jaar die eretitel van pensioenaris te beklee.
Hulle is baie lief vir rondreis in hul eie land, maar het ook al verskeie kere die landsgrense oorgesteek om die wêreld te verken. Na al die rondreise bly hul eie land die mooiste en die beste. Psalm 16. “Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in ‘n mooi land!” (Die Boodskap)
Hulle het drie kinders: Francois, ‘n algemene praktisyn in Newcastle, Tertius, ‘n mynbou-ingenieur in Johannesburg en Ezelle, ‘n onderwyseres by Hoërskool Wonderboom. Hulle is ook met vyf kleinkinders geseën.
Fanie dien reeds vir meer as 35 jaar op die kerkraad. Dit was vir hom ‘n besondere voorreg en belewenis om al die veranderinge en fases van Suid-gemeente te kon meemaak en betrokke te kon wees by die aanstelling van al die leraars die afgelope 25 jaar.
Fanie en Ansie se lewensfilosofie is soos volg: “Ons het as mens ‘n baie groot verantwoordelikheid in die keuses wat ons maak. Ons moet in afhanklikheid en erkenning besef dat die fondasie vir hierdie keuses in die riglyne lê wat ons uit die Woord kry. Ons hele bestaan en manier van hoe ons lewe, is ook maar net ‘n genadegawe van ons Hemelse Vader. Daarom moet ons lewe spreek van dankbaarheid veral vir die voorreg van gesondheid en al die genadegawes, ook vir die wonderlike land waarin ons woon. Ons albei het ‘n baie positiewe uitkyk op die lewe. Alhoewel ons al ‘n paar uitdagings beleef het, ervaar ons tog dat Hy na ons toe sal kom so seker as die son opkom en soos ‘n stormreën. Hy sal ons verkwik soos lentereën die grond verkwik. (Hosea 6).
Laat ons elke dag die wonder van die Skepping raaksien, want dis elke dag nuut!! Ps 119:24: “Laat ons daaroor juig en jubel.”
Ons benodig mense wat kan help asook koördineerders vir stalletjies by die Vleisfees.
Mag elkeen in hierdie winterdae die warm Liefde van die Here ervaar.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit