Hierdie week se boodskap

Kerk = Gawes van die Gees

Teks: Matteus 25:14 – 30

Boodskap: 

Die dag toe jy jou lewe oorgegee het aan die Here, het jy ‘n opdrag van Hom ontvang. Jy moet die Koninkryk van God uitbrei in hierdie wêreld. Die wonder van dit alles is dat God jou nie los om hierdie roeping op jou eie uit te leef nie. Hy gee deur die Heilige Gees vir jou gawes en hierdie gawes is gratis. Dis God se geskenk aan jou, sodat jy die Koninkryk kan uitbrei. Daar is natuurlik verskillende gawes wat die Gees gee (2 Pet. 1:3; Ef. 1:3; Rom. 12; 1 Kor. 12). Die gawes is uitsluitlik tot voordeel van die Koninkryk.

In die gelykenis wat Jesus vertel sê Hy vir ons baie duidelik dat ons die gawes wat ons ontvang het moet gebruik. Ons kan dit nie soos die slaaf wat een talent ontvang het, gaan begrawe nie. Met Jesus (eienaar) se terugkoms, gaan Hy rekenskap van ons eis. Ons moet aktief werksaam wees in hierdie wêreld om Sy Koninkryk uit te brei. Gebruik jy jou gawes wat jy van die Gees ontvang het om die Koninkryk uit te brei?

Gebed: Here baie dankie vir die gawes wat U deur die Gees aan my geskenk het om die Koninkryk uit te brei. Amen

Volledige videoboodskap:  https://www.youtube.com/watch?v=eZK1S8mITjg&t=147s

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:

Homer Neethling
Danie Minnaar
Tom Farmer
Lynn Van Staden
Deon Kotzee 
Nellie Kapp

Werner van Tonder

 

Bid asb ook vir lidmate wat siek is. 

Program vir die week

Daar sal nie tydens die langnaweek en skoolvakansie koffie bedien word by KOFFIE@SUID.

Coetzee en Mandy Barnard se lewenskets (kleuterkerk-aanbieder, groep 2)

Mandy Barnard is ‘n gebore Nelspruiter. Sy en haar man, Coetzee Barnard, is al agtien jaar getroud en hulle en hul tienjarige dogter, Milan, woon in Impalastraat. 

Mandy is die skakelbeampte vir Hoërskool Bergvlam. Coetzee is ‘n senior beplanner by Silulumanzi en hul dogter, Milan, is in graad 4 by Laerskool Nelspruit. Hulle het drie honde naamlik Spencer, Marla en Mila asook twee swart katte, Oreo en Rolo. 

Mandy is ‘n méns mens en lewe vir haar gesin. Vir haar draai die hele lewe om hulle, tog sonder om haarself te verloor. Sy glo: BLOM WAAR JY GEPLANT IS. Hulle stokperdjies sluit enigiets in wat hulle kan saamdoen, of dit kampeer, inkopies doen of sommer net op die bank voor die TV is; solank hulle saam is, is hulle op hulle gelukkigste. 

Mandy getuig: “1 Tessalonisense 5: 15 – 18: ‘Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.’ Jou Christenskap raak jou hele lewe, en daarom moet ander jou Christenskap in alle fasette van jou lewe kan sien. Wees die Lig is wat ek ons Ligdraertjies leer. Mag dit my lewensgetuienis wees naamlik dat ander die Here se Lig in my lewe kan sien.”

Ons benodig asb hulp met die gaarmaak van die varkvleis asook op die dag van die verkope.

Ons benodig mense wat kan help asook koördineerders vir stalletjies by die Vleisfees.

Mag jy ‘n Geseënde week beleef.

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit