Hierdie week se boodskap
Klein begin is groot gewin.
Teks: Sagaria 4: 1 – 14
Die volk Israel het teruggekeer uit ballingskap. Hulle kon weer Jerusalem se mure herbou asook die tempel. Onder leiding van Nehemia word die mure in ‘n rekordtyd van 58 dae gebou. Natuurlik het die Here hulle gehelp in die tyd, hulle sou dit nooit uit eie krag kon doen nie. Met die bou van die tempel was dit egter ‘n ander saak. Die volk onder leiding van Serubbabel begin om die tempel te bou, maar as gevolg van druk van sommige inwoners is die bouwerk gestaak. Vir 14 jaar word daar nie aan die tempel gebou nie. In hierdie tyd gaan dit sleg met die volk. Die rede is omdat hulle aandag aan hulle eie huise gee terwyl die huis van die Here (Tempel) nog glad nie gebou is nie.
In Sagaria 14:6 gee die Here deur Sagaria aan Serubbabel die opdrag om die tempel te herbou, maar hy sal dit nie uit eie krag kan doen nie , maar deur die mag en krag van die Gees. Die Here wil graag dat ek en jy ook deur die Gees sal funksioneer. Hy belowe ons in Hand. 1:8 en 2 Tim 1:7 dat die Heilige Gees ons sal bemagtig vir Sy werk. Ons moet net die Here vertrou met Sy werking in ons lewens.
Gebed: Here dankie dat U deur die Heilige Gees in my lewe werk. Hier is ek Here, gebruik my. Amen
Vir volledige videoboodskap, klik hier
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:
Bid asb ook vir lidmate wat siek is.
Program vir die week
Die gemeente ete vind Sondag na die erediens plaas. Besprekings sluit Donderdag om 12uur.
Lewenskets van Joggie en Sunette Crots (Joggie is ‘n addisionele lid op die kerkraad)
Joggie en Sunette Crots bly al 22 jaar in Nelspruit. Hy en sy vrou bedryf saam `n hardewarebesigheid buite die dorp in Msogwaba, net langs Kanyamazane. Hulle het drie kinders naamlik een dogter, Heike (19), en tweelingseuns, Ludwig en Ulrich (16). Heike werk saam met hulle by hul besigheid. Hulle seuns is in Hoërskool Nelspruit.
Joggie is `n ou Bosvelder en is op Potgietersrus gebore, het op Marken grootgeword en sy matriek op Potgietersrus geskryf. Sy vrou is op Delmas gebore en het in Pietersburg matrikuleer. Dis ook waar hulle ontmoet het. Sunette is ‘n oud-Laevelder en het as kind lank op Witrivier gebly. Joggie was vir sy diensplig (1993) in Middelburg (Mpumalanga) en in die SA Polisiediens (1994 – 1999) in Pietersburg.
Albei sy ouers, Frikkie en Sophie, leef nog en woon tans in `n aftree-oord in Nelspruit. Hy het twee broers en een suster. Sy een broer en suster, ook Frikkie en Sophie, is ook in Suid gemeente. Sy ander broer, Braam, woon op Groblersdal. Sunette se pa, Japie, leef nog en woon ook in Nelspruit. Haar ma is in 2009 oorlede.
Joggie en Sunette speel beide tennis by `n klub in Nelspruit en geniet dit baie om dit saam te kan doen. Hy dien op die kerkraad sedert 2001 en het vir twaalf jaar die uitreike van Suid gemeente na Mosambiek hanteer.
Joggie getuig: “Ons glo altyd dat die Here op sy eie tyd en dan ook in oorvloed sal voorsien.”
Mag elkeen in hierdie week God se Guns en Seën beleef.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit