Hierdie week se boodskap

Opstandingsredes
Teks: Verskeie
Die opstanding van Jesus is nie sommer maar net die volgende logiese gebeurtenis na afloop van Sy kruisiging nie. Die opstanding van Jesus het baie dinge kom verander. Vir Jesus het dit groot waarde ingehou, Hy kon weer terugkeer na die hemelse troonsaal in Sy verheerlikte posisie en in ‘n aangesig-tot-aangesig verhouding met die Vader wees. Die voordeel van die opstanding vir my en jou is dat die Jesus die Heilige Gees uitgestort het en dat ek en jy deur die Gees bemagtig en toegerus word om getuies te wees vir Jesus. Om dus ‘n opstandingslewe te leef is om onder leiding van die Heilige Gees te leef en te weet dat jy in God se oë geregverdig is. Gaan kyk gerus die videoboodskap en bestudeer die Bybelstudie om die volle impak van die opstandingsredes te integreer in jou lewe.
Gebed: Vader dankie dat U, Jesus uit die doop opgewek het en dat ons vandag die voorreg het om saam met Jesus te lewe.
Vir volledige videoboodskap, klik hier
Luister ook na die volgende lied wat aan die einde van die preek gespeel is: https://www.youtube.com/watch?v=NyPBVwOCYmM
Vrae vir verdere studie:
1. Wat beteken die opstanding van Jesus vir jou?
2. Lees Joh. 1:1 en Fil. 2:6vv en dink na oor veral Jesus se verhouding wat Hy met die Vader gehad het voordat Hy na die wêreld gekom het. Verstaan jy hoekom die opstanding vir Jesus so belangrik was? Hy wou weer terugkeer na daardie besondere verhouding met die Vader.
3. Jesus kon ook slegs verheerlik word deur die opstanding. Lees Joh. 17:4-5
4. Natuurlik is daar ook reeds in die Ou testament voorspel dat Jesus opgewek sou word uit die dood. Gaan lees die volgende gedeeltes daaroor.
a. Psalm 2:7
i. Hand. 13:32-39
ii. Heb. 1:5
iii. Heb. 5:5
b. Psalm 16:10
c. Psalm 110:1
5. Die opstanding en die rol van die Heilige Gees
a. Die opstanding het natuurlik ook die funksionering van die Heilige Gees ten opsigte van ons as gelowiges verander. Lees gerus die volgende verse.
i. Hand. 2:32-33
ii. Joh. 15:25
iii. Hand. 1:8
iv. Lees gerus deur Joh. 14 en 16 om meer oor die werking van die Gees te leer
6. Die Opstanding het natuurlik ook ‘n groot impak op ons lewens. Lees gerus deur die volgende verse en prys die Here vir Jesus se opstanding.
a. Die opstanding het ons posisie voor God verander
i. Rom. 4:24-25
ii. 1 Kor. 15:17
iii. 2 Kor. 5:21
b. Deur die opstanding is die ewige lewe ook vir ons moontlik
i. Joh. 11:25
c. Jesus se opstanding beteken dat Hy vir ons plek in die hemel voorberei
i. Joh. 14:1-4
d. Dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is, leef in ons
i. Ef. 1:18-21
ii. Fil. 3:10-11
iii. Kol. 3:1
e. As gevolg van die opstanding kan Jesus nou aan die regterhand van die Vader sit en vir ons intree
i. Heb. 8:1
f. Die hele boek Openbaring bevestig dat die opgestane Jesus weer op die wolke gaan kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
7. Watter impak het hierdie kennis wat jy nou opgedoen het op jou lewe as kind van God?
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:
Bid asb ook vir lidmate wat siek is.
Program vir die week



Die gemeente neem hierdie week afskeid van ‘n baie besonderse persoon….

Eugene, Anko en Dinieke Oelofse
Anko is reeds vir dertien jaar die administratiewe beampte in die kerkkantoor van die gemeente. Sy het in Centurion grootgeword en was in Hoërskool Eldoraigne. Na skool het sy grafiese ontwerp gaan studeer. Nadat sy haar diploma verwerf het, het sy werk gekry by Tshwane Stadsraad waar sy haar passie as grafiese ontwerper uitgeleef het. Sy het vir Eugene in 2003 ontmoet en hulle is in 2004 getroud. Eugene het ‘n werksgeleentheid in 2007 in Nelspruit aanvaar en so het hulle na Nelspruit verhuis. Hulle het toe lidmate van NG Suid geword en goed ingeskakel. Die admin.beampte-pos is in 2008 in die kerk se nuusbrief geadverteer, sy het aansoek gedoen en die pos gekry. In 2011 is hulle met ‘n pragtige babadogtertjie geseën. Haar naam is Dinieke. Albei haar ouers leef nog en sy is dankbaar vir hulle. Haar ouers woon ook nou in Nelspruit. Haar suster het reeds sewe jaar terug na Australië geëmigreer. Eugene het in verskeie dele van die Laeveld grootgeword weens sy pa se werksverpligtinge. Hy was dus in verskeie skole. Sy pa is sewe jaar terug oorlede. Sy ma leef nog en woon ook in Nelspruit. Eugene het ‘n broer en hy bly ook in Nelspruit.
Anko hou daarvan om kreatief te wees en sal gou iets vind om haar mee besig te hou. Hulle hou baie daarvan om as gesin fliek te kyk en om plekke te verken. Sy hou ook van video-speletjies en dus speel hulle as gesin saam. Omdat Dinieke hul enigste kind is, kom kuier ‘n maatjie meeste Vrydae en/of Saterdae by haar, want as sy gelukkig is, is hulle gelukkig.
Eugene het twee jaar gelede ‘n werksaanbod in Swaziland aanvaar. Die afgelope twee jaar was hulle as gesin dus nie altyd saam nie en baie gesinstyd het as gevolg van die afstand en uitdagings om deur die grens te kom, verlore gegaan. Weens Covid kon Eugene vir maande nie huis toe kom nie omdat die grense toe was. Eugene het ook Covid gekry en moes alleen teen die virus daar op sy eie in Swaziland veg. Anko het ‘n sterker mens geword en geleer om meer onafhanklik te wees. Sy voel dat dit egter nie die belofte is wat sy voor God gemaak het toe hulle die dag getroud is nie. Hulle het toe besluit dat hulle as gesin saam moet wees. Dit was nie ‘n maklike besluit nie, want dit is nooit maklik om tot siens te sê nie en ook om weer nuut op ’n ander plek te begin nie. Tog sien sy baie daarna uit om weer as gesin saam te leef. Dit is vir Anko baie hartseer vir die hoofstuk wat nou afgesluit word, maar sy is wel ook opgewonde vir wat voorlê.
Lewensgetuienis.
Anko getuig: “Ek en Eugene is nou agtien jaar getroud en ons staan nog altyd deur dik en dun saam. Ek is al deur baie erge gesondheidsprobleme, maar weet dat God altyd daar vir my was. Deur Sy liefde het ek vrede gevind en ek besef dat ons as mens nie in beheer is nie. Om te probeer om altyd vriendelik te wees, kos niks en kan dalk net iemand se dag ophelder. Ek hoop van harte dat my liggie wat hier in NG Suid helder geskyn het, net so helder in Swaziland sal skyn.”
“Hierdie is tot weersiens, want ek gaan nog baie in Nelspruit kom kuier. Dit is dus nie tot siens nie.”
Ondersteun asb die Leraars se projek. Ons benodig asb ook hande om te help by die hamburgerfabriek – geen ondervinding nodig, net die volgende twee vereistes: ‘n gewillige gees en gemaklike skoene.





Mag elkeen in hierdie week God se Guns en Seën beleef.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit