Hierdie week se boodskap

Tema:Hoe maak jy met Swaarkry en Lyding?

 

Teks: Hebreërs 2:8-18

 Hoe maak jy met Swaarkry en Lyding?

“Hoekom gebeur dit met my?”

Dit is ‘n vraag wat mense al oor die eeue heen gevra het wanneer moeilike, uitdagende opstandighede oor hulle lewenspad kom.

Meeste van ons het waarskynlik ook al hierdie vraag gevra.

As dinge nie uitwerk nie en die een terugslag op die ander jou lewe kom skud.

Wanneer ons hierdie lydingstyd weer opnuut bewus word van die swaarkry en lyding wat Jesus Christus moes deurmaak, dan help dit ons op anders te kyk en te dink oor ons eie swaarkry en lyding.  Jesus Christus het baie moes opoffer vir ons en het Homself aan lyding onderwerp terwille van die einddoel.

Jesus se lyding het vir my en vir jou Verlossing gebring en die Verlossing is volmaak en ewigdurend op grond van wat Jesus Christus opgeoffer het vir ons.As Jesus Christus nie bereid was om die lydingspad te stap nie, kon Hy nie die einddoel bereik om die Verlosser te word nie.Dit is juis deur Sy lyding deur, dat Hy ons kon verlos en die dood en die bose kon oorwin.

Al klink dit vir ons vreemd, het Oorwinning deur Lyding gekom.Al hierdie lyding en swaarkry wat Jesus deur moes gaan het uitgeloop tot die wonderlikste, mees belangrikste moment in die geskiedenis van die mensdom.

Omrede Jesus ook volkome mens was, met al die emosies wat ons as mense het, verstaan Hy presies wat ons ervaar wanneer ons deur tye van Swaarkry en Lyding gaan. Hy moes volkome mens wees sodat Hy in ons plek vir ons sondes kon betaal.

 Ja, soms is dit weens ons eie verkeerde keuses en besluite of weens ons eie of ander se sonde wat ons lyding ervaar. Maar baie keer is dit weens omstandighede buite ons beheer.

Maar wat belangrik is, is om te onthou dat God baie keer lyding en swaarkry gebruik om ons te laat groei en ons sterker te maak.

Ons vra dus meestal die verkeerde vrae wanneer ons deur tye van lyding en swaarkry gaan. Ons wil gewoonlik weet Hoekom dit met ons gebeur en baie keer is daar nie antwoorde daarvoor hier op aarde nie.

Ons moet eerder vra hoe God wil hê ons moet reageer en optree in tye van Lyding.

Ons moet leer om dalk minder daarop te fokus om so gou as moontlik ‘n einde te probeer bring aan ons lyding en swaarkry, en meer daarop fokus om te leer en te groei in die proses.

 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding.” Romeine 5:3

 “Lyding leer ons wat niks anders op aarde ons so kan leer nie… dat ons sonder God se nabyheid en troos nie kan leef nie. Solank alles in ons lewe voor die wind gaan, kan ons jare lank uiters oppervlakkig lewe. Maar wanneer ons pad kruis met lyding, word ons gedwing om kennis te neem van wat onder die oppervlak van dinge aangaan. As ons daar ingaan saam met God, word ‘n ongelooflike krag en skoonheid in ons gebore, iets wat sonder die vormende krag van pyn nooit moontlik sou wees nie.”

 William Barclay.

Kom ons leer om met ander oë, vanuit ‘n ander perspektief te dink en te kyk na ons eie swaarkry en lyding. Kom ons leer en groei daaruit.

    Gebed:

    Dankie Jesus Christus dat U bereid was om terwille van my ‘n pad van lyding te stap. Help  dat ek opnuut sal bewus word van dit wat dit U gekos het om my te kan verlos. Help my om ook anders te begin kyk en dink oor my eie swaarkry en lyding.

    Amen

     Vir volledige videoboodskap, klik hier

     

    Knie-aksie

    Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:

    Mauritz Hanekom
    Homer Neethling
     

    Daar is steeds lidmate wat tuis herstel of wat tans Covid het. Bid ook asb vir hierdie lidmate en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.

     

    Program vir die week

    Bekendstelling van Anton en Ulandi Klackers (Ulandi is die kerkraadslid vir ons gemeente se junior jeug)

    Ulandi is in Rustenburg gebore en is die oudste van drie kinders. Haar broer en suster woon in Pretoria. Sy het in verskeie dorpe in die ou Transvaal grootgeword omdat haar pa as landdros gereeld verplaas is.

    Sy het in Afrikaans Hoër Meisieskool matrikuleer. Sy het in 2002 haar kliniese ingenieursdiploma by die Pretoria Technikon voltooi en daarna by verskeie hospitale in Johannesburg en Pretoria gewerk, waar sy mediese toerusting gediens en herstel het. Haar man, Anton, is in King Williamstown gebore en het ook daar grootgeword. Hy het sy B.Com Rekeningkunde-graad aan die Universiteit van Port Elizabeth voltooi. Die Klackers-egpaar het in Pretoria ontmoet, is daar getroud en het twee seuns, Liam (graad 5) en Hanu (graad 3). 

    Ulandi en Anton verhuis in 2010 na Nelspruit. Hulle was eers lidmate van NG Westergloed voor hulle in 2018 na NG Nelspruit Suid oorgekom het.

    Ulandi het in ‘n Christelike huis grootgeword en is bevoorreg om nog albei haar ouers, Paul en Erna, te hê. Hulle is ook lidmate van NG Suid. Anton se pa het Desember 2021 vanaf die Oos-Kaap getrek en bly tans by hulle. Sy ma is in 2012 aan kanker oorlede.

    Ulandi was vir elf jaar huisvrou en het Anton se besigheid se administrasie deeltyds behartig. Desember 2021, binne ‘n week en deur die Here se genade, kry sy ‘n pos as krediteureklerk wat sy baie geniet. Volgens haar werk sy saam met wonderlike mense.

    Ulandi geniet dit om allerhande dinge met haar hande te doen soos bak en brou, hekel, verf, noem maar op. Hulle hou as gesin van sportskiet en neem graag aan langafstand-sportskiet-aktiwiteite deel.

    Volgens Ulandi het sy op ‘n wonderbaarlike manier die junior jeugleier-posisie gekry en aanvaar. Sy leer baie graag die kindertjies van God se genade en liefde en om hulle van al die ander karakters te vertel wat elkeen op sigself ‘n lewensles bevat. Dit is vir haar heerlik om elke Sondag die kinders se reaksie te beleef as hulle die lesse aanhoor en om hul verwondering te aanskou.  Dit is verblydend om te sien hoeveel van hulle op sό jong ouderdom ware Goddelike wysheid het en dit reeds deel.

    Ulandi sê: “Ons is as gesin die laaste drie jaar deur moeilike, uitdagende tye, maar ons kan daagliks van God se genade, liefde, leiding, beskerming en voorsiening getuig.  Dit het ook meegebring dat ons geestelik gegroei het en ons geloof versterk is met die wete dat God altyd in beheer is, maak nie saak hoe hopeloos jy op daardie oomblik voel nie.”

     

     

     

    Mag elkeen in die Paastyd die Here se Vrede, Vreugde en Liefde ervaar!

    Vriendelike groete,
    Jean, Louis en Gerrit