Hierdie week se boodskap

Tema: Versoekings 

Teks: Lukas 4: 1-11

Dink so oomblik na: Wat is dit wat jy sukkel om voor “nee” te kan sê?

Versoekings lê natuurlik op alle vlakke en terreine van ons lewens hier op aarde.

Sommige versoekings se implikasies en gevolge is gering maar ander versoekings hou verrykende negatiewe implikasies vir ons in. Party versoekings is so mooi verskans dat dit vir ons baie keer aanvaarbaar en selfs goed lyk en dan besef ons eers later hoeveel skade dit gedoen het. Veral verhoudings word baie keer ernstig beskadig wanneer mense vir versoekings val. Nie net ons verhoudings met ander mense nie, maar ook ons verhouding met God.

Jesus verstaan dat versoekings vir ons as mense soms moeilik is om te weerstaan.Ons lees dat Jesus self vir 40 dae aanhoudend deur die duiwel versoek is.Die duiwel probeer baie hard om God se Verlossingsplan te ontspoor.Gelukkig het Jesus elke versoeking weerstaan en so die weg vir ons help baan en vir ons die voorbeeld te stel.

Die duiwel probeer vandag nog om God se plan vir ons elkeen se lewens in die wiele te ry deur ‘n verskeidenheid versoekings ook oor ons pad te stuur. Hy weet waar is ons elkeen se swakplekke en wanneer ons broos is.

Hoe kan ons versoekings weerstaan? 

  1. Ons eie swakplekke te erken en bewus te wees van wanneer ons broos is.
  2. Plekke en situasies so ver moontlik vermy waar ons weet ons versoek gaan word.
  3. Nie op ons eie krag staat te maak nie, maar die krag wat God ons gee gebruik.
  4. Ken God se woord en staan op God se Woord.
  5. Laat God toe om jou hele lewe te vul met die teenwoordigheid van Sy Gees.

“Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” 1 Korintiërs 10:13

Gebed:

Dankie Vader dat U nooit sal toelaat dat ek bo my kragte versoek word nie. Dankie Jesus Christus dat U die voorbeeld vir ons gestel het en die weg vir ons gebaan het. Heilige gees help my om versoekings te kan weerstaan. Amen

Vir volledige videoboodskap, klik hier

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:Noline Els

Heleen Boshoff
Annalene (dogter van Jakes en Santjie Labuschagne)
Homer Neethling
Jan en Carlien Nieuwoudt se kleindogter
 

Daar is steeds lidmate wat tuis herstel of wat tans Covid het. Bid ook asb vir hierdie lidmate en ook vir die wat familie het wat tans Covid het. 

 

Medelye word betoon met:

Peggy Le Roux en familie na die heengaan van haar pa, George Steyn.  

Program vir die week

Bekendstelling van Hugo en Miemie Ferreira (Hugo is ons gemeente se fasiliteitsbestuurder)

Hugo is in Uitenhage gebore, maar hy voltooi sy laer- en hoërskoolloopbane in Despatch. Hy is passievol oor alle sportsoorte, veral rugby. Hy was ‘n kranige rugbyspeler en het onder andere ook aan die Craven-week deelgeneem. Hy is na skool polisiekollege toe en is daarna in die spesiale mag opgeneem wat destyds die ministers opgepas het.  Na sy bedanking uit die mag, het hy verskeie loopbane aangepak en uiteindelik by die kerk as fasiliteitsbestuurder kom nesskop waar almal hom leer ken het. Hugo het drie susters en is dus die enigste broer. Hy het onlangs sy pa verloor; sy ma lewe nog.

Miemie is in Duiwelskloof gebore en voltooi haar skoolloopbaan in Pretoria. Sy het gedurende hierdie tyd haar liefde vir netbal en ballet uitgeleef en was jaarliks ‘n skooldirigent by atletiekbyeenkomste. Albei haar ouers is oorlede. Sy het twee susters.  Sy was vir baie jare ‘n streeksbestuurderes by die Steinhoff-groep en word afgelê tydens die Markus Jooste-sage.

Die twee maak hul eie geskenk- en koffiewinkel in Ermelo oop, maar besluit na ‘n ruk om te verkoop. Die egpaar verhuis na Nelspruit om naby die kinders te wees. Hier in Nelspruit is Miemie die bestuurderes by die Cleaning Specialists.

Albei is in hul tweede huwelike en tussen hulle is hulle geseënd met drie seuns wat almal getroud is. Die oudste seun is Mauritz en hy en Leana het ‘n dogtertjie, Leah. Mauritz is in die landboubedryf wat raad en chemikalieë aan boere verskaf en Leana is ‘n prokureur op die dorp. Die tweede oudste is Michael met Estie en hul twee seuns, Leander en William. Michael is ‘n SEO-spesialis en doen ook Google-bemarking. Estie is ‘n graad 7-onderwyseres by Uplands. Martin, die jongste, is ‘n elektroniese ingenieur. Hy en sy vrou, Dune, bly tans in Nederland. Waar daar ‘n geleentheid is, doen die Ferreira-egpaar graag saam met hul kinders iets oor naweke. Hulle is nou betrokke by hul kinders en kleinkinders se wel en weë.

Die Ferreiras is gelukkig in mekaar se geselskap en hou daarvan om dingetjies saam te doen soos tuinmaak, projekte in en om die huis en om nuwe dinge te ontdek en te verken. Alhoewel hulle dikwels te besig is om hul stokperdjies te bedryf, hervleg Hugo graag riempiesbanke en stoele en maak ook kapstokke van verweerde hout. Hy maak ook houtkruise. Miemie maak kostuum-juweliersware en hoede. Sy skryf gedigte en het vroeër jare ‘n boek uitgegee, Die lewe in perspektief, by ‘n plaaslike drukkery in Tzaneen. Sy het ook weeklikse dagstukkies vir hul plaaslike koerant in Tzaneen geskryf.

Indien jy enige vriend of familielid oor die Ferreiras uitvra, sal hulle vertel dat die twee maklik en graag lag.  Hulle leef ‘n rustige lewe met die sekere wete dat God altyd by hulle is. Die wete seën hulle met ‘n alomteenwoordige kalmte.

Joshua 24:15 is hulle gesin se getuienis.

 

 

Seniorfunksie:

Die seniorlidmate is Sondag na die erediens bederf. Die gemeente kon gesellig saam met hul kuier. Dankie aan die Seniorbediening vir die heerlike eetgoed en baie mooi tafels.

Mag elkeen in die vakansietyd goed rus en vir die wat weggaan – veilig ry!

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit